Proteas opnuut Afrika-kampioen

Die voortdurende verbetering van haar span is vir Namibië se afrigter Julene Meyer 'n riem onder die hart.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – As gasheerspan het die Debmarine Desert Jewels gister by die Wanderers-saal in Pionierspark hul laaste wedstryd van Afrika-netbal se Afrika-bekertoernooi met 65-39 teen Suid-Afrika verloor.

Die Proteas het hul vyfde kontinentale titel beklink en het sedert 2019 geen wedstryd teen enige Afrika-opponent verloor nie.

Die Namibiërs het Maandag in 'n spannende stryd Zambië met 43-42 vir hul vierde oorwinning van die kompetisie geklop en ook hul ­mededinging met die Proteas voortgesit.

Die Jewels het ná die eerste 15 minute met 16-10 agtergeloop. Die SA afrigter Dorette Badenhorst het hierna 'n paar taktiese skuiwe en plaasvervangings aangebring.

Die tweede kwartier was 'n deurslaggewende tydperk waarin die Namibiërs net ses doele kon byvoeg (32-16).

In die derde kwart het Suid-Afrika 17 doele ingeryg om hul voorsprong tot 49-28 te rek, hoewel die tuisspan in dié periode 12 doele deur die ring gekry het.

Met tien minute oor in die laaste periode lei die Proteas die telbord met 53-33. Die groen-en-goues teken egter 12 doele teen Namibië se ses aan.

Julene Meyer, hoofafrigter van die Desert Jewels wat in haar eie speeldae ook vir Suid-Afrika gespeel het, het ná die kragmeting gesê: “Ek is ongelooflik trots op my span se vertoning vandag en hoe hulle die afgelope twee weke ontwikkel het. Ek kry hoendervleis as ek dink wat hulle vandag teen die Proteas vermag het.

“Al het ons teen die onbetwiste nommer een span in Afrika verloor, is ek baie bly dat ons voortdurend vordering toon. Dit sal lekker wees as ons in die toekoms deurentyd die gaping tussen ons en die beter lande kan verklein.

“Ek is ingenome met die meisies se vertoning vandag. In die derde kwart het die Proteas met 17-12 oorheers, so ek dink nie ons het baie verkeerd gedoen nie. Ek dink ons het op belangrike oomblikke foute begaan.

“Die Jewels sal moet aanleer om deurgaans dieselfde hoë intensiteit te handhaaf. Suid-Afrika is baie klinies en jy kan teen hulle geen glipsie bekostig nie.

“Ons sal moet leer om meer geduldig op die aanval te wees en nie balbesit af te staan nie. Dit help nie jy wil met dieselfde spoed as jou teenstander speel en dan begaan die spelers foute nie.

“Die Desert Jewels moet besef wat hul sterkpunte is en vir sukses daarop konsentreer. Ons verdediging in die doelsirkel was vandag veel beter.”

Dumisani Chauke, hulpafrigter van die Proteas, het gesê: “Namibië het goed gespeel en vandag se wedstryd was 'n goeie vertoonvenster vir Afrika-netbal. Elkeen van die meisies weet presies wat haar rol in die span is. Maak nie saak of jy o.21 is of vir die senior span speel nie, die standaard bly dieselfde.”

Eve Hamaalwa, kaptein van die Jewels, het gesê: “Dit was 'n goeie wedstryd vir ons. Ons het behoorlik ingeklim en ek dink nie Suid-Afrika het dit verwag nie.

“Ons was suksesvol met die meeste van ons doelgooie, maar ongedwonge foute bly steeds 'n probleem. Ek is baie trots op die meisies en ons gaan beslis probeer om vir die 2022 Statebondspele in Birmingham en hopelik die 2023 Wêreldbeker in Kaapstad te kwalifiseer.”

Die Proteas, die verdedigende kampioen, is ná agt botsings in die toernooi die enigste onoorwonne span. Hulle het inderdaad reeds Maandag hul titel suksesvol verdedig toe hulle Uganda met 57-37 oorskadu en seker gemaak het dat niemand hulle meer kon verbysteek nie.

Namibië het in die Afrikabeker sy merk met seges teen Botswana (50-41), Kenia (52-46), Tanzanië (40-37) en Zambië (43-42) gemaak.

Teen Zimbabwe (50-49), Uganda (62-36), Malawi (53-44) en Suid-Afrika (65-39) moes die Jewels ongelukkig die knie buig.

Suid-Afrika is tans nommer vyf op Wêreldnetbal se ranglys en die topspan in Afrika. Malawi en Uganda is onderskeidelik sesde en sewende met Zimbabwe 12de, Zambië 15de, Namibië 24ste, Botswana 27ste, Kenia 39ste gevolg deur Tanzanië wat nie onder die top-44 lande tel nie.

Namibië het sedert 2 Desember 2019 van 30ste tot sy huidige posisie gevorder.

Finale puntestand ná agt wedstryde elk:

1 Suid-Afrika 16 punte, doelverskil 563 - 246 = 317.

2 Malawi 13 punte, doelverskil 500 - 316 = 184.

3 Uganda 13 punte, doelverskil 460 - 318 = 142.

4 Namibië 8 punte, doelverskil 353 - 396 = -43.

5 Zimbabwe 8 punte, doelverskil 379-442 = -63.

6 Zambië 6 punte, doelverskil 362 - 419 = -57.

7 Botswana 4 punte, doelverskil 339 - 445 = -106.

8 Kenia 4 punte, doelverskil 296 - 483 = -187.

9 Tanzanië 0 punte, doelverskil 274 - 461 = -187.

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer