Proteas staal hul vir 'n 'ander dierasie'
Proteas staal hul vir 'n 'ander dierasie'

Proteas staal hul vir 'n 'ander dierasie'

Krieket
Tielman van Lill
Christo Buchner



Verloor jul vrees om te verloor. Dít is die boodskap wat vandeesweek hard en duidelik aan die Sri Lankaanse krieketspan uitgespel is.

Nadat die Suid-Afrikaanse toetsspan die vloer met Sri Lanka gevee het, begin die T20-reeks môre op SuperSportpark in Centurion.

Die ontleedmes is egter diep ingesteek wat die besoekers betref en die afrigter, Graham Ford, en die kaptein, Angelo Mathews, het 'n telefoniese gesprek met die grootbaas van hul krieket, Thilanga Sumathipala, gevoer.

Die boodskap wat oorgedra is, is dat Sri Lanka hul vrees vir mislukking moet afskud en sorgvrye en dapper krieket moet speel.

“Met al die nuwe gesigte in ons T20-groep kan dit hopelik 'n verskil maak. Hulle is nie deur die foltering van die toetsreeks en dit waaraan ons blootgestel is nie. Met die nuwe gesigte kom hopelik ook nuwe energie en kan dit die ander spelers ook woema gee,” het Mathews gesê.

Die Proteas beplan egter nie om 'n Sri Lankaanse herlewing in hul agterplaas toe te laat nie.

“Ons weet hulle ervaar pyn en dat hulle wil vergoed vir wat met hulle in die toetsreeks gebeur het. Ons wil hulle egter hou waar hulle is en daarom gaan dit nodig wees om hulle vroeg en hard te slaan en hulle nie enige kans te gee om hul selfvertroue te herwin nie,” sê Farhaan Behardien, die Suid-Afrikaanse kaptein vir hierdie reeks.

Dit gaan dus eweneens 'n kopstryd sowel as 'n stryd op die speelveld wees. Behardien het gister erken dit voel steeds onwerklik om te dink hy kry nou die kans om sy land se krieketspan op die veld te lei.

“Ons is 'n baie jong en onervare groep, maar die ouens het in die paar dae wat ons saam is reeds gewys hulle is oorgehaal vir hierdie reeks en wil die kans wat hulle kry om hul staal te toon ten volle benut,” sê hy.

Die onvoorspelbare aard van die kortste weergawe van die spel sal die Sri Lankane moed gee dat hulle die verloorgroef kan afskud. Een speler kan vir jou met 'n besondere vertoning 'n wedstryd wen, anders as toetskrieket waar jy oor die duur van 'n toets verskeie spelers nodig het om jou na 'n oorwinning te neem.

Behardien reken die Sri Lankane gaan in die witbal-krieket 'n ander dierasie wees.

“Ons sal gou gewoond moet raak aan die nuwe gesigte in hul span. Dit sal belangrik wees dat ons nie ons intensiteit gaan verlaag nie net omdat die toetsreeks redelik maklik gewen is nie. Ons wil hierdie T20-reeks ook met 3-0 wen, en daarom moet ons vir elke oomblik op ons beste wees,” sê hy.

Suid-Afrika: Farhaan Behardien (k), Theunis de Bruyn, Reeza Hendricks, Heino Kuhn, David Miller, Mangaliso Mosehle, Lungi Ngidi, Wayne Parnell, Dane Paterson, Aaron Phangiso, Imran Tahir, Andile Phehlukwayo, Jon-Jon Smuts.

Sri Lanka: Angelo Mathews (k), Dinish Chandimal, Dhananjaya de Silva, Thikshila de Silva, Niroshan Dickwella, Nuwan Pradeep, Asela Gunaratne, Denushka Gunathilaka, Nuwan Kulasukara, Suranga Lakmal, Kusal Mendis, Sachith Pathirana, Seekkuge Prasanna, Lakshan Sandakan, Isuru Udana. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer