• Tuisblad
  • Sake
  • Protes groei teen lewende verskeping van vee

Protes groei teen lewende verskeping van vee

Enviro-Leap consulting sê geen opdrag is ontvang om die omgewingsklaring-aansoek vir die uitvoer van vee te staak nie, maar het die versekering gegee dat die proses neutraal en objektief hanteer sal word.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith

Openbare teenstand groei teen ’n voorgestelde sakeplan om tot 125 000 stuks vee in Namibië in te voer en dan weer duisende kilometer ver oor die see na die Midde-Ooste uit te voer.

’n Petisie hieroor het van net sowat 1 000 handtekeninge aan die begin van September tot meer as 6 700 ondertekenare vandeesweek aangegroei.

Tradeport Namibia wil glo tot 70 000 skape, 50 000 bokke en 5 000 beeste vir vetmaak en verslagting via die Trans-Oranje / Kalahari-korridor, deur die Lüderitz- of Walvisbaai-hawe, na die Midde-Ooste uitvoer.

Tradeport Namibia het sowat twee jaar gelede voorbladnuus gemaak toe dit mangaanerts by die Lüderitz-hawe glo sonder die nodige omgewingsklaringsertifikate ingevoer het. Sedertdien het die maatskappy egter die nodige papierwerk voltooi en word mangaan steeds in- en uitgevoer.

Talle verslae van dieremishandeling, wat verbind word met die bedryf wat lewendehawe lewend verskeep, het die afgelope jare na vore gekom. Ontstellende beeldmateriaal van die lyding van diere aan boord is onthul, asook voordat dit verskeep word.

VERSET

“Staak asseblief hierdie aaklige manier om lewende diere te vervoer,” het een persoon geskryf, terwyl nog een dit as “wreed en siek” beskryf het.

Hierdie verset is nie beperk tot individue nie, maar word gesteun deur groeiende internasionale navorsing wat die lyding van diere ontbloot wat op dié manier vervoer word.

“Elke dierewelsynsgroep ter wêreld is gekant teen die lewende uitvoere van diere per skip vanweë die inherente lyding en risiko’s wat nooit oorkom kan word nie,” het dr. Chris Brown van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) onlangs verduidelik.

Só intrinsiek en onvermydelik is hierdie risiko’s, dat regeringsbeleid in Australië ruimte laat dat tot 1% op elke vaart kan vrek voordat die regering ondersoek hoef in te stel.

“Dit kom neer op duisende diere wat jaarliks op see vrek en tot miljoene oor dekades vanweë lewende uitvoere vanaf Australië,” het Brown gesê.

Nog ’n bekommernis is omgewingskade omdat die skepe wat vee vervoer, daagliks honderde ton onbehandelde riool in die see stort.

“Die skeepswerkers werp ook die karkasse van dooie diere in die see en die skade aan oseane se ekostelsels kan nie geïgnoreer word nie,” het Brown gesê.

Wetenskaplikes wys uit dat, buiten vir die wreedheid, kan Namibië ekonomies beter daaruit baat indien die vleis plaaslik verwerk word.

“In ekonomiese terme maak dié handel nie sin nie. Die kommersiële voordele gaan net aan die maatskappy wat die vervoerwerk doen. Dit beroof die plaaslike ekonomie van die geleentheid om die vleis te verwerk en waarde daartoe by te voeg,” sê Brown.

PROBLEMATIES

Dae nadat die petisie begin is, het Namibië se ministerie van landbou, water en grondhervorming in ’n verklaring gesê dit laat tans nie die “invoer en vervoer van lewende hawe of ander diere met gesplete hoewe vanaf Suid-Afrika” toe nie, weens die voortdurende uitbreking van bek-en-klouseer in die buurland.

Sommige meen die projek is reeds gedoem omdat groot uitdagings oorkom moet word om die nodige dokumentasie te verkry.

Verlede maand het die Vleisraad se mnr. Paul Strydom daarop gewys dat Botswana ’n verbod op die uitvoer van beeste na beide Namibië en Suid-Afrika geplaas het.

Brown voeg by dat die uitvoer van lewende vee nie ooreenstem met Namibië se tuisgroei-strategieë nie.

Hy sê navorsing dui voortdurend daarop dat die lewende uitvoer van vee nie enige langtermyn ekonomiese voordele vir ’n land inhou nie.

Hy het bygevoeg dat die Midde-Ooste groot hoeveelhede koue en gevriesde vleis invoer, wat beteken dit “maak ekonomies beter sin vir ’n uitvoerder om werksgeleenthede binne die land te hou en eerder vleis uit te voer.”

VERDOEMEND

Brown waarsku verder die tipe handel word wêreldwyd, insluitend Australië, Nieu-Seeland, die Europese Unie, Israel en Suid-Afrika, wetlik en polities teengestaan, juis omdat dit op die oortreding van dierewelsynwette neerkom.

Soos die wêreldgemeenskap al meer bewus raak van die tol wat die tipe handel van beide die diere en die omgewing eis, word dit in al meer lande verban.

“Die Namibiese regering moet daarvan bewus wees dat die tipe wreedheid in Australië van een media-onthulling tot die volgende gelei het, wat die land se reputasie skade berokken het.

“Ook is hierdie geleentheid op Namibië se voorstoep omdat dit in ander lande verban is. Dié handelswyse kom ook neer op ’n oortreding van Namibië se dierewelsynswette en -standaarde,” het hy gewaarsku.

Diere word in uiterste temperature asook oor lang ure sonder rus, kos of water na hawens vervoer. Dit is bloot die begin van ’n lang, moeisame reistog oor duisende kilometer per see, waartydens die vee nie kan gaan lê nie omdat hulle te dig gelaai word.

Hulle word blootgestel aan onder meer hittestres, salmonellose en longontsteking, asook hoë vrektesyfers.

Die diere ly ook gereeld aan toestande soos “enteritis” en ná weke op die skip raak hulle bedek deur mis, omdat hulle dig op mekaar gestapel is. Dit verhoog die risiko vir siektes, stres en vrektes.

GEEN OPONTHOUD

Terwyl die Tradeport-direkteur mnr. Monty Ndjavera vroeg in September gesê het hy het beveel dat die aansoek vir omgewingsklaring vir eers teruggehou word, duur die proses voort.

Mnr. Vilho Mtuleni van Enviro-Leap consulting sê geen formele opdrag is tot dusver ontvang om die aansoek te staak nie. Hy het egter die versekering gegee dat die proses neutraal en objektief hanteer sal word en dat die publiek by die assesering betrek sal word.

FOTO

VERBODE: Beeldmateriaal wat deur ’n besorgde bemanningslid geneem is op ’n skip wat lewende vee uitvoer. FOTO ANIMALSAUSTRALIA

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!