Protesgebare by Tokio se swempodium verbied

Olimpiese Spele
Fina, swem se wêreldbeheerliggaam, sê Olimpiërs mag hul menings op nuuskonferensies en in die media deel, maar protesgebare op medaljeseremonies by die Spele in Tokio word verbied.

Protesaksies op podiums is 'n omstrede kwessie in die aanloop tot die sportskouspel nadat die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) besluit het om met sy beleid te volstaan wat “enige betogings of politieke, geloofs- of rassepropaganda deur atlete in stadions, by seremonies en op podiums” verbied.

Dié beleid word deur sommige sportlui gekritiseer. Daar is diegene wat voel dit is hul reg om standpunt in te neem sonder om gestraf te word.

Volgens Husain Al Musallam, president van Fina, moet die swembad nie deur politieke gebare geskend word nie en dieselfde geld die podium.

“Dit is 'n oomblik wat respek en triomf vir sportprestasies verdien en nie onthou moet word vir individue wat uiting aan hul sienings gee nie,” sê hy.

Oor die afgelope maande is vanweë die opkoms van die Black Lives Matter-beweging uit verskeie oorde 'n beroep op die IOK gedoen om sy beleid te verander sodat atlete hul solidariteit met rasse- en geslagsgelykheid met protesgebare mag wys.

Sommige internasionale federasiegrootbase, insluitende Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, dink weer atlete het die reg om dit by die Spele te doen.

Die IOK se Kirsty Coventry, wat die oorsigproses van die reël bestuur het, het in April gesê die meeste atlete wat geraadpleeg is, was teen enige protes­aksie in stadions of op die speelveld. Sy het ook bevestig dat atlete gestraf sou word as hulle politieke gebare maak, soos om op die podium te kniel.

Fina se nuwe riglyne kom twee jaar nadat hy die Brit Duncan Scott gewaarsku het oor sy weiering om weens 'n opkikkerskandaal die podium by die 2019 wêreldkampioenskap met die Chinees Sun Yang te deel of sy hand te skud. Die Aussie Mack Horton het ook geweier om by dié byeenkoms in Gwangdjoe die podium met Sun te deel nadat hy in die 400 meter tweede geëindig het.

Sun, een van China se mees bekroonde atlete, se appèl in Mei teen 'n skorsing van agt jaar in die Hof vir Sportarbitrasie (CAS) in Switserland was suksesvol en sy straf is tot vier jaar verminder.

Die korter skorsing beteken Sun sal vir die Spele in Parys in 2024 verkiesbaar wees, maar dan sal hy reeds 32 jaar oud wees. – Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!