'Práát oor aborsie'
Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste sê die vraag moet gevra word waarom soveel jong vroue onwettige aborsies in Namibië ondergaan.
Henriette Lamprecht – ’n Breër debat op die “mees onbevooroordeelde manier” is van Namibiërs en in veral godsdienstige organisasies nodig om ernstig oor aborsie te besin.
Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Bernard Haufiku, het gister dié ernstige pleidooi by ’n mediakonferensie gelewer en gemaan “ons kan nie toelaat dat dit so aangaan nie”.
Volgens Haufiku is 7 335 aborsies tussen Januarie en Desember verlede jaar by staatsgeriewe aangemeld. Hiervan was net 2% oftewel 138 mediese aborsies. Net by die Katutura- en Sentrale hospitaal alleen word saam ses tot tien spontane miskrame of aborsies per dag aangemeld.
Haufiku het egter maan die meer as 7 000 aborsies is slegs die getal waarvan die ministerie bewus is en kan dit in werklikheid nader aan 10 000 wees.
“Ons weet nie wat die werklike getal is nie omdat aborsie huidig in Namibië onwettig is. Jy kan nie ’n aborsie ondergaan tensy dit medies noodsaaklik is nie.”
Hy het gemaan dié syfers wys “iewers is die situasie totaal buite beheer” en is die vraag wie gaan dit onder beheer bring.
“Dit vereis nie net die ministerie of die regering nie, maar elkeen van ons en in veral godsdienstige groepe waar die meeste teenkanting gewoonlik vandaan kom, om ernstig daaroor te besin om die situasie te verander.”
Volgens Haufiku sal dié debat verseker dat wanneer nuwe wysigings geïmplementeer word, “baie mense sal saamstem”.
Die meeste is volgens hom “agterstraat-aborsies”, met vroue wat dit ondergaan wat as “stout” bestempel word.
“Daar is baie redes hoekom vroue gaan om hierdie swangerskappe te beëindig en dit is waaroor ek wil hê ons as ’n land moet debatteer. Nie net debatteer nie, maar ook met moontlike oplossings kom. Dit is ’n etiese dilemma en ons moet uitpluis waarom soveel jong vroue onwettige aborsies ondergaan.”
Sepsis en bloeding ná ’n agterstraat-aborsie lei ook meer as dikwels tot sterftes en beland dié vroue eers in die hospitaal wanneer hulle “baie, baie siek is”. Vroue wat ná aborsies sterf, is meestal jong vroue onder die ouderdom van 25 jaar.
“Dit is iets wat in die geheim gedoen word. Het jy het ’n onwettige aborsie ondergaan, word jy in hegtenis geneem. Dit het nou ’n baie moeilike situasie geraak, want as ons hulle aan die polisie rapporteer, kan jy jou indink die syfers gaan minder raak. As ons 7 000 dié jaar aangemeld het, is dit volgende jaar net 700.”
Haufiku het erken dit is onwettig, maar het kommer uitgespreek dat “ons baie van hulle gaan verloor”.
“Hulle gaan dan die hospitaal as ’n polisie-agentskap sien. Ek dink die mediese gemeenskap sit met ’n dilemma. Ek glo beslis nie dis ’n oplossing om dié vroue aan die polisie oor te lewer nie.”
Dr. David Uriab, hoof mediese superintendent van die Sentrale hospitaal het gemaan dit is moeilik om te bepaal wanneer iets soos bloeding die gevolg van ’n agterstraat-aborsie is. Ook sal die meeste vroue wil beweer dit (bloeding) is iets wat spontaan of as gevolg van ’n ongeluk of infeksie gebeur het.
“Daar is ook iets soos spontane aborsie wat kan gebeur sonder dat die ma enigiets spesifiek gedoen het. Hoe bewys jy dit is ’n agterstraat-aborsie? Dit sal nie sin maak om enige vrou wat hiermee inkom, by die polisie aan te meld nie.”
Die hoof van verloskunde en ginekologie, dr. Shonag Mackenzie, het op haar beurt gesê sy is bewus van drie sterftes wat direk aan onwettige aborsie toegeskryf kan word.
“Die grootste komplikasie wat ons sien, is sepsis. Dikwels kom die vroue laat by die hospitaal en is die enigste prosedure wat hul lewe kan red ’n histerektomie wat beteken hulle kan nooit weer ’n baba hê nie. Daar is ’n hoë tol in sterftes en ongeskiktheid.”
Volgens Mackenzie kom baie spontane miskrame ook voor en bly die eerste prioriteit om hierdie vroue te help.
“Meld ons dit by die polisie aan? Nee. Sy kom na ons toe vir hulp. Ons bestuur haar miskraam en dikwels kan ons nie sê of dit spontaan of geïnduseer is nie.”
Sy het voorts gesê die ministerie verskaf nou vir die eerste keer langdurige voorbehoeding.
“Baie van dié vroue is onder 25 en tieners. Ons kan voorbehoeding verskaf wat drie jaar duur en hulle na ’n maatskaplike werker verwys. Baie van hierdie swangerskappe is onbepland en so help ons hulle maatskaplik en ook sielkundig.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie