Prys van die nuwe iPhone sal jou verras
Prys van die nuwe iPhone sal jou verras

Prys van die nuwe iPhone sal jou verras

Petrus Malherbe – Die splinternuwe iPhone 11, wat op 27 September beskikbaar gaan wees, sal jou net R1 500 méér kos as wat die iPhone 8 gekos het toe dit ’n paar jaar gelede uitgereik is.

Die iPhone 11 met 64 gigagrepe geheue gaan R14 999 kos as jy dit kontant aanskaf.

Op kontrak gaan die foon by al die diensverskaffers in die omgewing van R799 per maand kos op die goedkoopste pakket.

Nog net Vodacom en Telkom het amptelik hul kontrakpryse vir die nuwe iPhone bekend gemaak. (Sien ook grafika hiernaas.)

Die twee duurder nuwe iPhone-modelle, die iPhone 11 Pro en Pro Max, kos onderskeidelik R1 099 en R1 199 per maand by Vodacom en R999 en R1 199 per maand by Telkom.

MTN maak eers Maandag sy kontrakpryse bekend. ’n Woordvoerder van Cell C wou ook nie verklap wat dié diensverskaffer se kontrakpryse vir die nuwe iPhones gaan wees nie, maar het wel bevestig dat dit “om en by dieselfde” gaan wees as Vodacom en Telkom s’n.

Die kontantprys van die iPhone 11 Pro en Pro Max beloop onderskeidelik R21 999 en R23 999. In albei gevalle is dit vir die model met 64 gigagrepe geheue.

Die duurste nuwe iPhone is die Pro Max met 512 gigagrepe geheue. Dié model kos ’n stewige R32 399.

Dit is ook tot dusver die duurste iPhone.

Die iPhone XS Max, wat in 2018 om en by dieselfde tyd uitgereik is, het R31 999 vir die weergawe met 512 gigagrepe geheue gekos.

Die iPhone 8 het twee jaar gelede R13 499 gekos, wat die iPhone 11 net R1 500 duurder maak.

Apple, wat deesdae sukkel met dalende verkope, het aangekondig hy gaan ’n daadwerklike poging aanwend om sy toestelle meer bekostigbaar te maak.

Die voortslepende handelsoorlog tussen Amerika en China (waar meeste van Apple se produkte vervaardig word) kan egter dinge deurmekaarkrap en die maatskappy dwing om nuwe fabrieke in ander lande op te rig.

Nuwe slimfone se funksies:

iPhone 11: Dié iPhone van 6,1 duim spog met ’n dubbele hoofkamera agter met ’n vergrote lens en sensor wat die kroon vir beste kameras van Samsung se 2019-vlagskepe verhaal. Die iPhone 11 het ook nou ’n IP68 waterdigtheidsgradering wat hom dompelbaar maak. Apple het ook dié kleinste iPhone se battery verbeter, wat nou ’n uur langer as sy voorganger, die iPhone XR, sal hou.

Benewens die een minder kamera, is die iPhone 11 goedkoper danksy sy vereenvoudigde, gewone LCD-skerm wat beeld van ’n effens swakker gehalte as sy groot broers se OLED-skerms verskaf. Hy kom in drie geheueformate: 64 gigagrepe (GB), 128 GB of 256 GB.

iPhone 11 Pro: Die Pro-weergawe van die iPhone 11 het ’n ietwat kleiner skerm van 5,8 duim, maar met baie hoër beeldgehalte vanweë die OLED-tegnologie wat hiervoor gebruik word. Waar die groot verskil inkom, is in die kameras: die Pro het drie enorme kameras agterop die toestel wat met sowel telefoto- as wyehoeklense spog.

Hy het ook die waterdigtheid van die basismodel, maar sy battery verskaf vier uur meer krag as sy voorganger, die iPhone XS. Hy kom in drie geheueformate: 64 GB, 256 GB of 512 GB.

iPhone 11 Pro Max: Die grootboet-iPhone van 2019 het ’n enorme 6,5 duim- OLEDskerm. Dié verskil in grootte is die hoofverskil tussen die twee Pro-modelle, maar stel hom ook in staat om sy batterylewe te verbeter.

Die Pro Max spog met vyf uur meer krag as sy voorganger, die iPhone XS Max van 2018. Hy kom in drie geheueformate: 64 GB, 256 GB of 512 GB. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!