Prysmonster spoeg skoksyfers

Die drie swaargewigte in die prysindeks wat saam bykans 60% van die verbruikersmandjie uitmaak, se inflasiekoerse het aansienlik gestyg.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – As jy ‘n ‘Januworrie’ agter die rug het, dís hoekom: Januarie se jaarlike inflasiekoers van 8,2% was die hoogste in bykans vyf jaar.

Desember was dié koers nog 7,3%, dieselfde vlak waarop dit sedert Oktober vasgesteek het. Vóór dit het die koers drupsgewys op beweeg. In Januarie 2016 was die koers ‘n skrale 5,3%.

Verbruikers het laas in Maart 2012 só onder die prysmonster deurgeloop, toon jaarverslae van die Bank of Namibia (BoN). Toe het inflasie op 8,8% gestaan. Kyk ‘n mens na maand-op-maand-stygings, is Jan Alleman 14 jaar gelede laas só verniel, sê die Namibië Statistiekagentskap (NSA). Nadat dit in Desember met 0,2% verhoog het, het dit verlede maand met 3,2% die hoogte ingeskiet. Die gemiddeld vir 2016 was maar 0,6%.

Die drie swaargewigte in die Namibiese verbruikersmandjie het almal reuse-stygings getoon. Inflasie vir behuising, water en krag - wat 28,36% van die totale mandjie uitmaak – was 9,3% in Januarie vergeleke met 7,6% in Desember. Kos – op 16,45% die tweede belangrikste item in die mandjie – het van 12,7% tot 13,5% gestyg. Vervoer – met ‘n gewig van 14,28 – het van 3,9% tot 5,2% verhoog.

Kosinflasie het sedert Januarie 2016 meer as verdubbel. Die prysmonster was die luste vir vis en die inflasiekoers het binne ‘n jaar van 2,2% tot 23,3% gestyg. Vir vleis het hy ook nie nee gesê nie, vandaar ‘n verhoging van 2,0% tot 10,3%.

Inflasie vir brood en graanprodukte het in die jaar onder oorsig net-net nie verdubbel nie: Dié styging was van 7,8% tot 15,4%. Melk, kaas en eiers se koers is egter meer as drie keer op – van 2,7% tot 9,0%.

Ander items waar die prysmonster twee keer harder geslaan het, is: Vrugte (7,4% tot 15,8%), asook suiker, konfyt en lekkergoed (8,8% tot 19,7%). Kafeïen het veel groter skop gekry met die koers vir koffie, tee en kakao wat van 6,9% tot 21,7% gewoel het.

Verbruikers se enigste blaaskans was met groente. Die koers hiervoor het van 13,3% in Januarie 2016 tot 8,3% verlede maand gedaal.

In reaksie op die NSA se jongste syfers het IJG Securities gister gesê ‘n skerp toename in die inflasiekoers kan vanjaar verwag word. Waar dié ontleders vroeër ‘n gemiddelde inflasiekoers van 6,4% verwag het, voorspel hulle nou 7,9%.

Namibië se gemiddelde inflasiekoers verlede jaar was 6,7%.

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!