Psemas: Kontrak in konsepfase
Psemas: Kontrak in konsepfase

Psemas: Kontrak in konsepfase

Die nuwe, gewysigde kontrak tussen mediesediensverskaffers en die staat se mediese fonds behoort strenger maatreëls en reëls te bevat.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Met die verstryking van kontrakte tussen mediesediensverskaffers en die staat se mediese fonds, Psemas wat vinnig naderkom, is die nuwe kontrak wat op 1 Julie in werking tree, nog in die konsepfase.
In mediese kringe is die verwagting dat die nuwe kontrak eers in Augustus in werking sal tree, wat mediesediensverskaffers sowel as Psemas-lede in limbo laat totdat die nuwe kontrak wél tussen die betrokke partye gesluit is.
Op sosiale media is ’n kennisgewing reeds wyd versprei dat Psemas-lede vanaf 1 Julie kontant vir mediese dienste moet betaal en vervolgens self van Psemas moet eis. Dit is egter in ’n verklaring deur die permanente sekretaris van finansies, me. Erica Shafudah, ontken.
Mnr. Godwin Tjavara, finansiële raadgewer van die ministerie van finansies en adjunkhoof van die Psemas-afdeling, het in ’n telefoniese onderhoud erken die nuwe, gewysigde kontrak is nog by wetskrywers.
Hy het die hoop uitgespreek dat dit “gouer eerder as later” na diensverskaffers aangestuur sal word.
“Ons wag nog; dit is belangrik dat dit aan sekere vereistes voldoen. Ons moet met ’n produk vorendag kom wat almal tevrede stel,” het hy beklemtoon.
Volgens Tjavara sal die ministerie wel die “verantwoordelike ding doen” en diensverskaffers en die publiek inlig, sou dit nie teen einde Junie voltooi wees nie. “’n Mens het ’n verwagting dat sekere dinge op sekere tye gebeur, maar dit is ’n proses.”
Die ministerie het in ’n verklaring die versekering aan Psemas-lede en hul afhanklikes gegee “die skema gaan met sy werksaamhede voort soos dit nog al die jare was”.
“Geen gesondheidslui wat by Psemas ingekontrakteer is, sal van Psemas-lede vereis om vooraf te betaal nie.” Sou dit wel gebeur, moet die ministerie van finansies onmiddellik hiervan in kennis gestel word. “Inteendeel, ons doen ’n beroep op gesondheidslui om hulle hiervan te weerhou.”
Volgens die verklaring was die hersiening van huidige kontrakte tussen Psemas en diensverskaffers nodig, nadat “misbruik en skuiwergate” tot nadeel van die mediese fonds en die fiskus in veral die ou kontrakte opgemerk is.
“Die hele mediese professie weet presies wat hierdie skuiwergate is.”
Die belofte word ook gemaak dat die publiek ingelig sal word oor die nuwe veranderinge in die kontrakte sodra die hersieningsproses afgehandel is en wat sal verseker dat Psemas “volhoubaar bestaan”.
Die ministerie maan in die verklaring “Namibië ervaar ’n moeilike finansiële tydperk” en almal, gesondheidslui, Psemas-lede en hul afhanklikes ingesluit, “moet by die tye aanpas”.
Intussen het ’n vertroulike bron in die gesondheidsbedryf die bestaande (ou) kontrakte as “argaïes” beskryf wat onder meer nie meer die korrekte kodering en vergoedingstabelle weerspieël nie. Ook leen die kontrakte dit in sekere gevalle tot “potensiële uitbuiting” deur sekere verskaffers.
Psemas, die ministerie van finansies sowel as die private sektor is vir insette by die samestelling van die nuwe kontrakteringsmodel betrek.
Volgens die bron word dit deur die ministerie van finansies opgestel en is dit na gelang van die spesifieke dissipline “universeel van aard. Alle deelnemende dokters sal dieselfde wees, so ook alle deelnemende hospitale, tandartse en dies meer.”
Die bron wou nie kommentaar lewer oor die verskil tussen die ou en die nuwe kontrak nie, maar die verwagting is wel dat strenger maatreëls en reëls in terme van die toepassings van onder meer magtigings en dokumentêre bewyslewering sal geld.
Die nuwe kontrakte is volgens die bron nog “in konsepvorm” en nog nie bekend gestel of op openbare forums bespreek nie.
“Die private sektor verwag nie die nuwe kontrakte voor 1 Augustus nie.”
Dat Psemas-lede vanaf 1 Julie kontant moet betaal, is volgens die bron ook van alle waarheid ontbloot.
“Huidige kontrakte is van krag totdat dit amptelik opgehef word wat uiteraard sal inpas by die aanvang van die nuwe kontrakte op 1 Augustus. Intussen word die status quo gehandhaaf.”
Met verwysing na die aangaan van nuwe kontrakte sê die bron soos in die verlede sal “vrye deelname” plaasvind ten einde “die breër bevolking die geleentheid te bied om toegang tot gesondheidsorg te hê”.
“Dit bly egter die keuse van enige verskaffer om nie in te kontrakteer met Psemas nie. Indien sodanige lid daarop aandring om dié spesifieke diensverskaffer te spreek, word daardie lid soos ‘n normale private pasiënt/kontantbetaler hanteer. ’n Kwitansie word wel uitgereik en die lid kan dit by Psemas met die hoop op terugbetaling indien.”
Die nuwe kontrakte vorm deel van Psemas se voorgenome nuwe baadjie, met die volgende fase wat sal fokus op die herstrukturering van voordele aan die hand van aktuariële modellering. Die private sektor sal voorts ook insette oor onder meer voordele en die bekamping van bedrog lewer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!