Psemas: Senior rekenmeester vasgetrek
Psemas: Senior rekenmeester vasgetrek

Psemas: Senior rekenmeester vasgetrek

Die betalings van eise van die staat se mediese fonds word glo bewustelik vertraag.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) van Namibië het Vrydag 'n senior rekenmeester van die ministerie van finansies vasgetrek wat met eise van die staat se mediese fonds (Psemas) werk.

Die rekenmeester het na bewering N$50 000 van die eienaar van 'n besigheid geëis om die uitbetaling van mediese eise van sowat N$1,35 miljoen te bespoedig.

Dié bedrag is sedert 2016 uitstaande.

Volgens die rekenmeester sou die geld aan personeel van Psemas se administrateur, Methealth, gaan om eise van mediese praktisyns te bespoedig. Hy sal na verwagting vandag in die hof verskyn.

Volgens 'n verklaring deur die ACC word 'n Methealth-personeellid tans ondervra en word verskeie ondersoeke in dié verband uitgevoer.

Die kommissie sê voorts onbevestigde inligting is in die verlede ontvang dat eise en betalings na bewering bewustelik vertraag word om 'n omgewing te skep waarin omkoopgeld gevra word om die betalings be­skikbaar te maak.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het in Maart vanjaar gesê uitbetalings aan sowat 25 diensverskaffers in die gesondheidsbedryf word teruggehou tot ondersoeke deur Methealth en die ministerie afgehandel is.

'n Komitee bestaande uit diensver­skaffers in die bedryf is verlede jaar in die lewe geroep om “onvanpaste” Psemas-eise en ook uitskieters te identifiseer. Sommige gevalle word forensies geoudit en die uitslag is aan Methealth vir verdere bevestiging gestuur.

Schlettwein het voorts gesê die huidige omkeertyd vir die verwerking van eise vanaf die datum van ontvangs deur Methealth is 14 dae.

Diensverskaffers in die bedryf is verlede jaar erg gekortwiek deur laat of geen betalings van Psemas-eise, met sommige praktyke wat geen medisyne kon aankoop nie of selfs personeel moes laat gaan.

Intussen het 'n bejaarde Republikein-leser en lid van Psemas laat weet meer as N$5 000 in uitstaande eise is sedert Desember nog nie aan haar uitbetaal nie. By navraag is aan haar gesê “die tesourie” stel nie fondse beskikbaar nie. Verlede jaar moes sy byna vyf maande vir 'n eis van net oor die N$1 000 wag.

“U sal met my saamstem dat dit baie geld vir 'n pensioenaris is,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!