Psemas skuld N$500 miljoen
Grootste medisynegroothandelaar kan nie meer medisyne aan sekere kliënte verskaf.
Henriette Lamprecht – Die staat se mediese fonds, Psemas, se uitstaande skuld aan verskaffers van gesondheidsdienste in Namibië beloop reeds sowat N$500 miljoen.
Dié bedrag kan egter tot Mei nog aansienlik styg wanneer die ministerie van finansies na verwagting sy beloofde betalings van agterstallige skuld stukgewys gaan begin delg. Die N$500 miljoen dek slegs eise vir die tydperk tussen 16 Desember 2016 en 28 Februarie vanjaar.
Volgens ’n betroubare bron in die mediese bedryf, is ’n betaling van 20% wel in Januarie aan sekere diensverskaffers gedoen. ’n Vergadering is in Februarie tussen verskaffers en die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, belê waartydens kommer oor die wanbetalings van Psemas-eise uitgespreek is. Volgens die bron is opdrag aan verskaffers gegee om die “minimum-bedrag" te bepaal wat nodig is vir uitbetaling sodat hulle kop bo water kan hou.
“Elkeen het gaan bereken wat nodig is om mense nié af te dank nie en wat nodig is om te oorleef.”
Volgens die bron het dít gewissel van 60 tot 75% van die uitstaande bedrag wat Psemas verskaffers geskuld het. Tydens ’n tweede vergadering met die ministerie en belanghebbendes, is dié persentasie egter van regeringskant op slegs 50% vasgestel.
“Die gevoel was om eerder iets as niks te vat.”
Element van bedrog
Tydens dieselfde vergadering is volgens die bron besluit om ’n spesiale taakspan saam te stel wat beveel is om na die “element van bedrog” in die bedryf te kyk.
“Daar is wel misbruik, maar 95% speel ’n regverdige ‘game’ en betaal die Vereniging vir Namibiese Mediese Fondse (Namaf) se tariewe volgens die 2017-skaal.” Volgens die bron betaal Psemas egter Namaf-tariewe volgens 2014 se skaal.
Deel van die opdrag om ongerymdhede te ondersoek, was om “uitskieters” in sekere hoëkoste-dissiplines te identifiseer, wat hospitale, aptekers, dokters, radioloë en patoloë insluit.
“Geen ondersoek is egter gedoen en geen wiskundige manier is gebruik om die sogenaamde uitskieters te identifiseer of om te bepaal wat veroorsaak dat hulle buite die norme is nie.”
Volgens die bron hang dit van verskeie faktore af wat onder andere die geografiese besonderhede van die pasiënt insluit.
Die verskaffers wat as “uitskieters” geïdentifiseer is, gaan volgens die bron nie betalings hangende verdere ondersoek ontvang nie, terwyl die res van die einde van Maart af glo stuksgewys 50% van hul uitstaande eise kan verwag.
Tekorte
Die bron sê medisynetekorte word reeds by die regering se sentrale mediese store beleef. "Hulle het nie meer medisyne nie, terwyl tekorte ook vir sekere produklyne, soos noodmedisyne, voorspel word," sê hy.
Volgens die bron sit diensverskaffers met ’n morele en etiese dilemma.
“Dit gaan oor die pasiënt se beste belange, die pasiënt moet ‘gediens’ word, maar ten koste van wat?”
Intussen maan die land se grootste farmaseutiese groothandelaar dat indien die huidige situasie nie teen 20 Maart opgelos is nie, sal medisyne, insluitend nood- en chroniese medisyne, nie meer na Namibië ingevoer kan word nie.
NamPharm het Dinsdag in ’n dringende skrywe aan sy kliënte dit duidelik gemaak hy kan nie meer die reuse-finansiële las van uitstaande skuld dra nie. Volgens die brief is die maatskappy se laat- of wanbetalers meer as dubbel dié medisynegroothandelaar se maandelikse aankope.
Volgens die maatskappy se bemarkingsdirekteur, mnr. Marius Gouws, beloop die uitstaande skuld op 90 tot 120 dae reeds sowat N$50 miljoen.
NamPharm se verskaffers werk op 30 dae terme: word die rekening nie betaal nie, word dit volgens Gouws summier gesluit.
“Voor die rekening weer oopgemaak word, is dit onderhewig aan ouditverslae wat voorgelê moet word, wat ook tyd kan neem.”
Noodmedisyne
Gouws het gesê min aankope kan tans gedoen word, "met soveel rekeninge van kliënte wat gevries is of reeds aan prokureurs oorhandig is”.
Hy het gesê drastiese optrede is nodig om te verhoed dat daar ’n tekort aan medisyne in die land is.
“As iets nie drasties gedoen word nie, gaan daar ’n groot tekort aan nood- en chroniese medisyne wees en die winter is ook nog op pad.”
Hy het beklemtoon die maatskappy verstaan hul kliënte se punt “100 %” en help sover hulle kan, maar “as daar nie ’n Nampharm is nie, is daar nie apteke in die land nie”.
Ook mnr. Willie van Wyk, besturende direkteur van Geka Pharma (Pty) Ltd., nóg ’n farmaseutiese verskaffer, erken dié maatskappy is in ’n moeilike situasie vasgevang.
“Ons ontvang geen grasie van ons verskaffers nie.”
Volgens Van Wyk moes die maatskappy by hul bank aanklop om hul oortrokke fasiliteit te verhoog vir die oorbruggingsperiode tot wanneer kliënte weer “normaal” kan betaal.
Hy sê hul kliënte se rekeninge sal nie sommer gesluit word nie en hulle probeer kliënte sover moontlik “aan die gang hou”.
Morele verantwoordelikheid
“Ons het ’n morele verantwoordelikheid om die pasiënt se medikasie te verskaf, ons kan nie die diensverskaffer se keel afsny nie.”
Hy het voorts gesê sommige pasiënte gebruik spesifieke medikasie wat nie sonder meer verander of gestop kan word nie.
Van Wyk het erken daar is wel kliënte wat nie die werkskapitaal het om die huidige situasie te dra nie.
“Die vraag is waar kom Psemas se verantwoordelikheid in? Dít terwyl die pasiënt 100% gehelp is. Jy kan tog nie by ’n winkel instap, N$200 se kruideniersware in jou mandjie laai en sê jy gaan net N$100 betaal nie.”
Die voorlopige verslag deur ’n komitee wat ondersoek gedoen het na bedrog onder diensverskaffers en die indiening van vals eise aan Psemas, is gister aan die ministerie van finansies oorhandig.
Eise neem toe
Intussen het Schlettwein, Woensdagaand tydens ’n begrotingsdinee in Windhoek gesê eise deur diensverskaffers het in die tweede helfte van verlede jaar skerp toegeneem.
“Dit het ons laat vermoed dat eise gelaai word of dat daar geëis word vir dienste wat nie gelewer is nie.”
Hy het gesê: “Mense is baie slim met hoe hulle die stelsel misbruik, hetsy deur kaartbedrog wanneer die dokters of hekwagters ’n blinde oog gooi as ’n pasiënt iemand ander se kaart gebruik om te eis, of deur medikasie en behandelings voor te skryf wat nie werklik nodig is nie."
Schlettwein het as voorbeeld ’n dokter gebruik wat verskeie praktyke geregistreer en eise ingedien het asof pasiënte gelyktydig by al hierdie praktyke gesien is. Volgens hom sal betalings gemaak word vir geldige eise sodra die verslag bestudeer is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie