Psemas stop uitbetalings
Psemas stop uitbetalings

Psemas stop uitbetalings

Die ministerie van finansies het glo nie fondse vir die betaling van eise vir die staat se mediese fonds beskikbaar gestel nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die administrateur van die staat se mediese fonds (Psemas) het opgehou om eise vir betaling te verwerk.

Dít nadat die laaste betaling deur Methealth op 20 Januarie vanjaar aan gesondheidsdiensverskaffers, wat ‘n ooreenkoms met Psemas het, gemaak is.

Volgens mnr. Eben de Klerk van die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) het navraag aan Methealth aan die lig gebring geen betalings kon ná 20 Januarie gedoen word nie, omdat Psemas en die ministerie van finansies sedertdien nie fondse hiervoor beskikbaar gestel het nie.

“Volgens hulle is hul hande afgekap, want Psemas betaal hulle nie,” het De Klerk by navraag gesê.

Hy het gesê die NPPF het klagtes van verskeie lede van die NPPF ontvang, wat op uitbetalings van eise wag.

“Hulle is absoluut aan die genade van die regering uitgelewer. Van die verskaffers moes in Februarie hul belasting aan die regering betaal, maar hulle kry nie hul geld van die regering om dit te betaal nie!”

Volgens De Klerk waarsku die NPPF sy lede om hul blootstelling aan Psemas “dop te hou”.

“Ons waarsku verskaffers van gesondheidsdienste die finansiële risiko verbonde aan Psemas is groot,” het hy gesê.

Volgens De Klerk is verskaffers by navraag gewaarsku om pasiënte nie kontant te laat betaal en self te laat terugeis nie, omdat “ons kontrak dan onmiddellik opgeskort sal word”.

Hy het voorts gesê die betalings van eise geskied steeds teen vyf jaar gelede se standaardtariewe van die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse (Namaf).

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het teen druktyd gister nie gereageer op vrae oor die staking van betalings van eise sedert 20 Januarie vanjaar nie.

In Maart verlede jaar en enkele dae voordat die nuwe Psemas-kontrak toe in werking sou tree, het meer as 20% van private diensverskaffers in die gesondheidsbedryf wat aan 'n landswye opname deelgeneem het, gesê hulle gaan die nuwe kontrak nié onderteken nie.

Die uitgebreide opname onder private diensverskaffers is deur die NPPF, in samewerking met die Namibiese Vereniging vir Tandartse (NDA) en die Mediese Vereniging van Namibië (MAN), gedoen.

Die NPPF het toe reeds lede gewaarsku indien die huidige maatstaftariewe nie in die nabye toekoms daadwerklik aangepas word nie, dit tot “'n beduidende afname in die beskikbaarheid van diensverskaffers vir Psemas-pasiënte” sal lei – tot só ’n mate dat dié pasiënte vir behandeling by die staat sal moet aanklop.

Republikein het ‘n jaar gelede berig uitbetalings is van sowat 25 diensverskaffers in die gesondheidsbedryf weerhou tot ondersoeke deur die fonds se administrateur, Methealth, en die ministerie van finansies afgehandel is.

Die begroting vir Psemas vir die 2018-'19-boekjaar was N$2,8 miljard.

Die kantoor van die eerste minister het in 2018 'n tydelike eenheid geskep wat verantwoordelik is vir die totale oorsig en ontleding van die mediese skema se huidige bestuurstruktuur, die oorsigtelike verantwoordelikheid van die skema, sowel as die evaluering van voordele.

In dié verband is 'n konsultant vir ses maande aangestel om die projek te bestuur. Die tydperk is intussen verleng. Verlede jaar was die huidige omkeertyd vir die verwerking van eise vanaf die datum van ontvangs deur Methealth 14 dae.

Tot en met die betaallopie van 11 Februarie 2018 is 'n totale bedrag van N$4,28 miljard in eise uitbetaal.

Twee jaar gelede toe ook gesloer is met die uitbetaling van eise, was Psemas se uitstaande skuld aan verskaffers van gesondheidsdienste sowat N$500 miljoen.

Dié N$500 miljoen het slegs eise gedek vir die tydperk tussen 16 Desember 2016 en 28 Februarie 2017.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!