PSG verhoog dividend met 40%
PSG verhoog dividend met 40%

PSG verhoog dividend met 40%

Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand-Jonker - Die Stellenbosse beleggingsgroep PSG het sy finale dividend vir die boekjaar tot einde Februarie met 40% verhoog.
PSG besit groot belange in die genoteerde maatskappye Capitec, Curro, PSG Konsult en Zeder wat onderskeidelik in bankwese, private skole, batebestuur en landbou betrokke is.
Die waarde van sy bates het einde van die boekjaar R42,6 miljard beloop – 20% hoër as ’n jaar gelede.
Capitec is steeds PSG se grootste belegging. Sy 30,7%-belang in Capitec het einde van die boekjaar R16,8 miljard beloop.
Die PSG-groep se herhalende wesensverdienste het met 42% tot R1,6 miljard gestyg.
Die grootste bydraer tot sy herhalende wesensverdienste is ook Capitec. Capitec se bydrae het met 35% gestyg.
Die PSG-groep se aandeelprys was Maandag teen 14:50 sowat 0,7% hoër op R207,98.
Dit is net minder as die waarde van sy bates per aandeel uitgesluit laste van R208,21 tans.
PSG het R2,9 miljard se kontant wat hy wil gebruik vir verdere beleggings.
’n Finale dividend van 200c (145c) is uit die inkomste-reserwes verklaar. Dit het die totale dividend op 300c te staan gebring vergeleke met 200c in die vorige jaar. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer