Psigiater vir onprofessionele gedrag ondersoek
Psigiater vir onprofessionele gedrag ondersoek

Psigiater vir onprofessionele gedrag ondersoek

Regsverteenwoordigers van die Raad van Gesondheidsberoepe in Namibië formuleer tans klagtes teen ‘n psigiater aan die kus.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ‘n Voorlopige ondersoekkomitee van die mediese en tandheelkundige raad het bevind ‘n klagte van onprofessionele gedrag teen ‘n bekende psigiater van Swakopmund het wel meriete.

Volgens die Raad van Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) se registrateur is die klagte wat teen dr. Pieter van der Westhuizen ingedien is, ondersoek en het die komitee voorgestel dit word vir ‘n ondersoek na professionele gedrag verwys.

Volgens mnr. Cornelius Weyulu is die saak vervolgens na die HPCNA se regsverteenwoordigers verwys om die klagtes teen Van der Westhuizen te formuleer.

Van der Westhuizen staan tans in die hoërhof in Windhoek ook tereg op vyf aanklagte, wat ‘n klag van poging tot moord insluit.

Die klag van poging tot moord is alternatiewelik die oortreding van artikel 16 van die wet op die bestryding van immorele praktyke en die gebruik van sekere middele om ’n vrou te verdoof of die oorhand vir immorele doeleindes te kry. Die ander klagte teen hom is een van onsedelike aanranding en drie klagte van verkragting.

Die aanklagte hou verband met Van der Westhuizen wat na bewering in November 2015 ‘n pasiënt in sy spreekkamer op die dorp verkrag het. Van der Westhuizen het glo die getroude ma van twee eers bedwelm en toe verkrag.

Volgens die hofstukke het Van der Westhuizen die vrou glo ’n oordosis Ritalin-, Valium- en Ativan-­tablette gegee. Die slagoffer is glo ook alkohol ingegee.

Die slagoffer was glo ten tyde van die beweerde verkragtings “hulpeloos” weens die pille wat sy moes drink. Van der Westhuizen het glo ook fisieke krag tydens die verkragtings gebruik.

Van der Westhuizen se spreekkamer op die kusdorp wou gister nie kommentaar oor die ondersoek lewer nie en navrae deur Republikein is met “geen kommentaar” begroet.

In April verlede jaar het die HPCNA bevestig verskeie klagtes van onprofessionele gedrag teen Van der Westhuizen word ondersoek.

Die raad is egter nie in ‘n posisie om die misdaad van verkragting te ondersoek nie, maar wel die praktisyn se gedrag in die tyd wat die verkragting na bewering plaasgevind het.

Sou die strafregtelike ondersoek Van der Westhuizen aan verkragting skuldig bevind, sal die raad volgens Weyulu die saak in ooreenstemming met die Mediese en Tandheelkundige Wet 10 van 2004 hanteer.

Van der Westhuizen sal tydens ‘n verhoor die geleentheid kry om sy saak met of sonder regsverteenwoordiging te verdedig, wanneer die raad die klagte teen hom formuleer.

Weyulu het toe gesê ‘n praktisyn is onskuldig tot hy aan onprofessionele gedrag skuldig bevind word, waarná sy magte ingevolge wetgewing opgeskort kan word.

Van der Westhuizen praktiseer steeds as psigiater.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!