• Tuisblad
  • Sake
  • Publiek gewaarsku oor ‘Christen-beleggingskema’
Publiek gewaarsku oor u2018Christen-beleggingskemau2019
Publiek gewaarsku oor u2018Christen-beleggingskemau2019

Publiek gewaarsku oor ‘Christen-beleggingskema’

Die Suid-Afrikaanse Raad op Finansiële Dienste (RFD) waarsku die publiek teen Choice Lifestyle Change, wat deel is van Free Agape Enterprises.
Nellie Brand-Jonker - Volgens die Suid-Afrikaanse Raad op Finansiëele Dienste (RFD) is nie Choice Lifestyle Change of Free Agape Enterprises geregistreer as ’n finansiëlediensteverskaffer nie, maar tog bied Choice finansiële dienste en beleggingsgeleenthede aan kliënte aan.

Die Reserwebank ondersoek ook glo die moontlike oortreding van die Bankwet deur Choice. Die maatskappy is glo veral in die omgewing van Gansbaai in die Wes-Kaap en Polokwane in Limpopo bedrywig.

Volgens die registrateur van maatskappye is Free Agape Enterprises in 2014 gestig met Maarten Jacobus Stapelberg (55) as die enigste direkteur. Die fisieke en posadres van die maatskappy is Ingangstraat 51, De Kelders, Gansbaai.

As ’n mens Choice se telefoonnommer skakel, speel die volgende boodskap: “Het jy geweet by Choice gaan dit oor die mense, nie oor die geld nie?”

Die boodskap lui verder dit is ’n Christen-gefinansierde maatskappy wat volgens die beginsels van die Bybel bedryf word.

Die boodskap lui verder: “Druk 1 om met Wouter Botha oor produkte en bemarking te gesels.”

Botha wou nie aan Netwerk24 kommentaar lewer oor die waarskuwing van die RFD nie. Hy sê dis sy vrye reg om nie kommentaar te lewer nie. Hy is in Polokwane.

Dan lui die boodskap: “Druk 2 om oor huislenings met Maarten Stapelberg te praat.” Hier kom ’n mens net by ’n antwoordmasjien uit.

Later het ’n Mariska Stapelberg opgetel wat nie wou sê watter familieverbintenis sy met Maarten het nie. Sy het gesê hy gaan op reis en is nie beskikbaar om kommentaar te lewer nie.

Die Bosveld Review het in Oktober berig die Agapé Christengemeente van Polokwane het homself op sy Facebook-blad van die maatskappy gedistansieer nadat die naam verwarring veroorsaak het.

Maretha Swanepoel van die Bosveld Review het met Stapelberg gepraat. Hy het aan haar gesê hy is nie eens bewus van die aantygings en probleme nie.

“Ek is die alleeneienaar van die onderneming. Ons is nie ’n kerk nie, ons is evangeliste. Ons doen evangeliewerk en uitreiking na mense in nood, onder meer om Bybels uit te deel. Toe ek ’n naam vir my onderneming gekies het, was Free Agape Enterprises beskikbaar.”

Stapelberg sê sy rol is dié van ’n verbandmakelaar wat mense met geld in aanraking bring met mense wat geld vir ’n kort tydperk benodig. Daar word egter nie oorbruggingsfinansiering verskaf nie, net “waarborge”.

Dit is onduidelik hoe rente hierop verdien word en hoekom die verbruiker wat die geld benodig, rente betaal as dit net ’n waarborg is.

Stapelberg het aan die finansiële nuuswebwerf Moneyweb erken hy is nie by die RFD of by die Nasionale Kredietreguleerder geregistreer nie omdat hy nie lenings of oorbruggingsfinansiering verskaf nie, maar ’n waarborg wat aandui die kliënt het genoeg geld om op ’n sekere datum te betaal.

Stapelberg sê die rente wat verbruikers betaal, hang af van die bedrag en kan 5% tot 30% per maand wees. Net die helfte van die rente gaan na die kliënt en die res word aangewend vir die bedrywighede van Free Agape Enterprises.

Die Polokwane Observer het berig plaaslike adviseurs het gewaarsku teen die “oorbruggingskema wat beleggers ’n opbrengs van tot 15% per maand op hul beleggings beloof”.

D.W. Schoeman, ’n beleggingskenner van Polokwane, het aan die Polokwane Observer gesê: “Die grootste probleem is dat mense nie altyd na die raad van kenners luister nie en hulle blind staar teen die belaglike rentekoerse. Baie maatskappye soos Choice speel op mense se gevoelens deur Christelike waardes aan te voer. Daar is geen beleggingsproduk wat ’n 15%-opbrengs per maand kan lewer nie. Die standaard-rentekoers is ongeveer 5% per maand. Enigiets meer as dit is buitensporig en waarskynlik te goed om waar te wees.”

Luidens die Zoutpansberger het Lourens Greyling, ’n plaaslike finansiële adviseur, gesê: “Hierdie ouens is tans baie groot in Polokwane en ek is seker daarvan dat daar ook in Louis Trichardt heelwat beleggers is wat by Choice belê het.”

Volgens Greyling waarsku hy reeds etlike maande lank plaaslike beleggers om nie by Choice of enige ander instansies wat buitensporige maandelikse opbrengste belowe, te belê nie.

“Daar is mense wat my kom vra het vir finansiële advies. Hulle was egter nie tevrede met die 8%- tot 9%- jaarlikse opbrengs wat lae-risiko-beleggings kan lewer nie. Die een belegger het reguit vir my gesê hy verkies dan eerder die 15% per maand wat Choice hom bied. Ek het vir hom gesê hy kan maar vir hom ’n groot pak sneesdoekies gaan koop, want hy gaan lang trane huil.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!