Publiek moet oor voorvaderlike grond sê

Namibiërs sal in die volgende twee en ‘n half maande insette aan die presidensiële kommissie van ondersoek na voorvaderlike grondregte kan lewer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibiërs kan tussen 20 Mei en 21 Junie geskrewe voorstelle oor voorvaderlike grondeise indien en daarná tussen 17 Junie en 25 Julie voorstelle by openbare vergaderings oraloor die land maak.

Die presidensiële kommissie van ondersoek na voorvaderlike grondregte het gister tydens ‘n nuuskonferensie aan die media gesê sy werksplan is nou gefinaliseer, wat sleutelaktiwiteite en uitslae, asook tydsraamwerke uiteensit.

“Die kommissie is gereed om na die publiek te luister en sal na elke Namibiër, groep en gemeenskap sonder vrees, voordeel of voorbehoud luister,” het regter Shafimana Ueitele, voorsitter van die kommissie, gesê.

Hy het gesê die publiek se voorleggings moet verband hou met die verwysingsterme, soos in die Staatskoerant van 15 Maart 2019 uiteengesit.

Ueitele het gesê die volgende fase gaan in twee dele aangepak word – die eerste behels dat individue, groepe, gemeenskappe of kundiges genooi word om geskrewe voorleggings by die kommissie in te dien.

Hy het gesê Windhoekers kan hul geskrewe voorleggings by die kantoor van die regbank, die eerste minister en die kommissie se sekretaresse by die ministerie van grondhervorming indien.

Dit kan ook gepos word of per e-pos gestuur word.

Fase twee behels dat die kommissie in drie groepe ingedeel word, wat tussen 17 Junie en 25 Julie die land se 121 kiesafdelings sal besoek om Namibiërs se voorleggings aan te hoor.

Ueitele het gesê die kommissie is ook besig om navorsers te kry, wat toepaslike dokumentasie uit argiewe moet hersien, geskiedkundige en wetsdokumentasie moet nagaan, persele moet besoek en onderhoude met sleutelkenners moet voer.

Ueitele sê om vertroue te bou, het die kommissie reeds met onder andere goewerneurs, streekraadslede, leiers van politieke partye, tradisionele en kerkleiers, burgerlike organisasies, boere en werkersunies begin vergader.

“Die eerste ronde konsultasies is tussen 6 en 10 Mei gehou,” het hy gesê.

Ueitele het verduidelik die kommissie se skedule is baie besig omdat dit binne nege maande ‘n tussentydse verslag aan die president moet voorlê, gevolg deur die finale verslag drie maande later, en het Namibiërs se samewerking gevra.

Die presidensiële kommissie van ondersoek na voorvaderlike grondregte is op 21 Februarie vanjaar deur pres. Hage Geingob in die lewe geroep. Hy het ook gesê hoe daarvoor vergoed moet word.

Die kommissie moet ingevolge die presidensiële opdrag ooreenstemming oor die definisie van voorvaderlike grondregte bereik – ook oor die herstel daarvan of vergoeding daarvoor.

Dié stap stuur die implementering van die resolusies van stapel, wat tydens die tweede nasionale grondkonferensie in Oktober verlede jaar gemaak is.



OPDRAG AAN KOMMISSIE

Die opdrag aan die kommissie sluit in dat geraakte gemeenskappe geïdentifiseer moet word en dat bepaal moet word hoe groot hul grondgebied was.

Daar moet vasgestel word hoeveel grondeise uit die vooronafhanklikheidstyd kom, en vir hierdie gemeenskappe moet spesiale voorsiening in die hervestigingsvereistes gemaak word.

Voorts moet hulle alternatiewe maatreëls vir die herstel van hierdie maatskaplike ongeregtigheid tref en seker maak die geraakte gemeenskappe word ekonomies bemagtig.

Reparasies deur die voormalige koloniale magte as ‘n manier om die gemeenskappe te vergoed, moet ook ondersoek word.

Nóg ‘n meganisme is wetgewing wat die skep van serwitute moontlik maak sodat gemeenskappe toegang tot voorvaderlike grafte sal hê eerder as om daardie grond te onteien.

Nuwe wetgewing moet ook geskep word, wat vir hierdie tipe grondeise voorsiening maak, terwyl tussen die verskillende vorme van voorvaderlike grondeise onderskei word.

Nóg ‘n taak van die kommissie sal wees om alternatiewe grondgebiede in die kommunale en kommersiële boerderygebiede te identifiseer, waarin gemeenskappe wat verspreid geraak het, hervestig kan word.

Aanbevelings moet ook gemaak word oor waar standbeelde en monumente vir volksmoordslagoffers en veterane uit die vryheidstryd opgerig kan word, en waar dié mense se oorskot begrawe kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!