Pukke maak amok in Bloemfontein
Pukke maak amok in Bloemfontein

Pukke maak amok in Bloemfontein

Rugby
Marnus Kok - Diegene wat gedink het die Pukke se Varsitybeker-veldtog is besig om 'n stadige dood te sterf, is Maandag in Bloemfontein verkeerd bewys.

Die Potchefstromers het met 'n kliniese vertoning agt drieë gedruk om die Ixias met 62-7 af te ransel.

Met die oormaat besit vir die Pukke, wat verlede week met 28-0 deur Tuks uitgestof is, het hulle baljaar – rugby sonder tierlantyntjies, maar doeltreffend.

Die besoekers se losskakel, Schalk Hugo, het met sy balverspreiding en hardlooplyne beïndruk en het die spelers aan sy buitekant oorgenoeg geleenthede gegee. Boonop was hy met al sy pogings pale toe suksesvol.

Die Pukke het die Ixias, wat vanjaar 'n skrikbewind met sy voorspelers voer, voorlangs baie goed in toom gehou. Voeg hierby klipharde verdediging en jy weet hoekom die Bloemfonteiners bloedneus gekry het.

Vir die wenspan het veral die agtsteman, Edmund Rheeder, 'n barshou gespeel en soos 'n besetene verdedig.

Die kere dat die Ixias naby die Pukke se doellyn was, het hulle óf besit afgestaan óf swak besluite geneem.

As die Ixias dalk nog kop in die wolke was ná verlede week se oorwinning oor die Shimlas, het die Pukke hulle met geweld aarde toegebring.

Pukke 62 (32): Drieë: Pienaar van Niekerk (sewepuntdrie), Van Niekerk, AK Nela, Johan Retief (sewepuntdrie), Chunier van Rooyen, Lungelo Gosa, Keagan Tait (sewepuntdrie), Lincoln Daniels. Doelskoppe: Schalk Hugo (8).

Ixias 7 (0): Drie: Karabo Maqeba. Doelskop: Marc Morrison.



MATIES VERNEDER SHIMLAS

Die Shimlas het hard probeer, maar dit was eenvoudig nie goed genoeg teen die verdedigende kampioenspan van die Maties nie, skryf Owen Kock.

Dis al manier hoe dié kragmeting opgesom kan word ná die weghol-oorwinning van 59-14 deur die besoekers waarin die losskakel, Jordan Chiat, die hoofrol vertolk het.

'n Skrikbewind in alle fasette van die spel is wat die Maties gevoer het.

Die Maties se drieë in die eerste helfte het gekom van agtsteman Johann van Niekerk en haker Daniel Jooste, terwyl die Shimlas se senter William Eybers en vleuel Charl Pretorius ná die draaislag gaan druk het.

Dit was veral die besoekers se agttal wat gemaak het net soos hulle wil, maar hulle het telkemale gesukkel om die voordeellyn oor te steek.

Moet nie 'n fout maak nie, die Shimlas het ewe goeie veggees as Maties openbaar, maar foute op die aanval was hul doodsteek.

Die deur vir 'n plek in die halfeindronde is op 'n skrefie oop, maar dan moet die Shimlas die Universiteit van Johannesburg volgende week in die Goudstad klop.

• Wits het op sy tuisveld die Universiteit van Wes-Kaapland in 'n fees van drieë met 74-40 afgeransel.

In Pretoria het UP-Tuks en die Ikeys met 26-26 gelykop gespeel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!