Pukke te sterk vir Ikeys in sopnat Potch
Rugby
Wim Pretorius
Die Pukke het Ikeys Maandagaand op 'n sopnat Fanie du Toit-sportterrein in Potchefstroom met 20-13 geklop om die verdediging van hul Varsitybeker-titel weer op koers te kry.
Dit was die eerste keer sedert die groepwedstryd in 2014 wat die tuisspan daarin kon slaag om die Kapenaars in Potchefstroom te klop. Pukke se taktiese skopwerk en rotsvaste verdediging was deurslaggewend.
Die Fanie was die verhoog waarop Pukke in 2014 sy hartverskeurendste nederlaag in die Varsitybeker-kompetisie gely het, toe hy teen einste Ikeys in daardie jaar se eindstryd verloor het.
Baie water het intussen in die see geloop, met die Pukke-binnesenter Jaap Pienaar en Ikeys-flank Jason Klaasen die enigste spelers wat nog van die destydse spanne oor is.
Tog sou die 2014-uitslag nog in 'n paar Potchefstroomse agterkoppe gewees het en Pukke het alles in die stryd gewerp om dit te wreek.
Die tuisspan moes Maandag sonder Jeandré Rudolph, hul staatmaker-kaptein en agtsteman, klaarkom nadat hy harsingskudding tydens die span se nederlaag teen Maties opgedoen het.
Marno Redelinghuys het ingestaan en die span met vernuf vanuit die agtsteman-posisie gelei.
'n Vyfpunt-drie deur Elden Schoeman, die Puk-buitesenter, wat deur Schalk Hugo verdoel is, en twee strafdoele deur die nommer 10, het Pukke vroeg 'n voorsprong van 13-0 gegee.
Ikeys kon eers kort voor rustyd op die telbord kom met 'n strafdoel deur Lohan Lubbe, die heelagter.
Eerste bloed in die tweede helfte het ook aan Lubbe behoort toe hy Ikeys se agterstand na 13-6 laat krimp het met nóg 'n strafdoel.
'n Drie deur Pukke se Estehan Visagie, 'n plaasvervanger, het sy span se voorsprong kort daarna weer vergroot. Hugo het verdoel om Pukke 20-6 voor te laat loop.
Ikeys het verlore aansien herwin met 'n drie deur die slot Gary Porter kort voor die eindfluitjie, maar dit was te min te laat.
Pukke het hul sewende sege in 13 probeerslae oor die Ikeys behaal sedert die toernooi se ontstaan in 2008. Ikeys was al vyf keer aan die wenkant met een kragmeting wat gelykop geëindig het.
Ikeys sal na die kleedkamers terugkeer en wonder waar dinge skeef geloop het 'n week nadat hulle die eerste span sedert 2013 geword het om die Universiteit van die Vrystaat (Shimlas) in Bloemfontein kaf te draf.
Pukke, daarenteen, sal selfvertroue uit die oorwinning neem nadat hulle verlede week in Stellenbosch deur Maties hard terug aarde toe gebring is toe hulle 31-9 vasgeval het.
Pukke 20 (13): Drieë: Elden Schoeman (vyf punte), Estehan Visagie (vyf punte). Doelskoppe: Schalk Hugo (x2). Strafdoele: Hugo (2).
Ikeys 13 (3): Drie: Gary Porter (vyf punte). Doelskop: Lohan Lubbe. Strafdoel: Lubbe.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie