• Tuisblad
  • Sport
  • Pupkewitz Megatech staan stewig agter jong ryers
Pupkewitz Megatech staan stewig agter jong ryers
Pupkewitz Megatech staan stewig agter jong ryers

Pupkewitz Megatech staan stewig agter jong ryers

Fietsry
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die sleutels van 'n splinternuwe 1.5-liter Haval Jolion 1.5 is gister aan die twee bloedjong fietsryers Alex Miller en Hugo Hahn oorhandig.

Pupkewitz Megatech en Pupkewitz Haval het saamgespan vir die borg­skap van dié promosievoertuig aan Miller (21), wat verlede jaar sy Olimpiese debuut op die bergfiets in Tokio gemaak het en die nasionale padfietskampioenskap in 2019 gewen het, en die 19-jarige Hahn, wat verlede jaar vir die nasionale o.23-titel (padresies en tydtoets) net deur Miller geklop is.

In die kleure van Pupkewitz Megatech ry komende Sondagoggend 'n heel gedugte span in die tweede byeenkoms van die 2022 Nedbank Windhoek Pedal Power-reeks, wat op die Dordabispad gehou word.

Miller en Hahn sal die driemalige Olimpiese ryer en gereelde nasionale kampioen Dan Craven as hul vennoot hê, asook Theuns van der Westhuizen en Morné Honiball.

Vir volgende maand se Pupkewitz Tour de Windhoek sal Miller, Hahn en Konny Looser (sesmalige wenner van die Nedbank Desert Dash) deel vorm van 'n ewe gedugte span wat tans saamgestel word. Craven se beskikbaarheid moet nog bevestig word, hoewel die organiseerders 'n sterk hoop het dat hy ook dié span sal versterk.

“Die ander spanlid, Tristan de Lange (naaswenner in die nasionale padfietskampioen van 2020 en wenner van die Desert Dash in 2021) sal ongelukkig nie vir die span kan deelneem nie. Hy herstel tans van 'n kniebesering en is in die Kaap met rehabilitasie besig,” sê Hans du Toit, die afrigter.

Miller en Looser sal op die eerste naweek in Februarie ook as 'n span aan die Tankwa Trek-skoftoer in Suid-Afrika meeding. Verskeie sterk internasionale uitdagers sal in die gesogte spankompetisie van 3-6 Februarie hul visier op die wenposisie ingestel hê.

“Pupkewitz Megatech is daartoe verbind om deur sy daaglikse werksaamhede 'n gesonde, gebalan­seerde leefstyl te bevorder,” sê die maatskappy oor die borgskap.

“Deur atlete van dié klas te ondersteun in hul fietsryloopbane te ondersteun, wil ons wys hoedat junior atlete ongeag hul herkoms of omstandighede met harde werk en toewyding hul volle potensiaal kan bereik – nie net op sportgebied nie, maar ook as mense.”

Pupkewitz Megatech het sy volgehoue steun vir die volgende drie aan Miller en Hahn verklaar om hulle by te staan in hul strewe om vir die 2024 Olimpiese Somerspele in Parys voor te berei en te kwalifiseer.

In volgende maand se Tour de Windhoek wil Pupkewitz Megatech ook graag sien dat 'n span met Namibiërs as leiers hul vernuf wys teen enige span uit Suid-Afrika.



FOTO
Die fietsryers Hugo Hahn en Alex Miller glimlag breed tydens gisteroggend se oorhandiging van hul geborgde voertuig deur me. Bianca Weakley van Pupkewitz Haval en mnr. Morné Nel, besturende direkteur van Pupkewitz Megatech. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!