Pyne is deel van die pakket in topvlak sport
Pyne is deel van die pakket in topvlak sport

Pyne is deel van die pakket in topvlak sport

Andrew Poolman
As die naam Stuart O’Grady dalk nie ’n klokkie lui nie, hier is ’n vinnige feit: Dié gewese Australiese professionele fietsryer wat in 2013 uitgetree het, is die gesamentlike rekordhouer as die man wat die meeste kere vir die Tour de France aangetree het.

Sewentien keer.

Daai is yster.

Die afgelope week het hy sy bydrae vir die Australiese webblad PlayersVoice opgelaai – ’n redelik unieke forum vir aktiewe en uitgetrede sportmense op die elite vlak van verskeie kodes, wat openhartig hul stories op en van die “oorlogsveld” deel.

Ongeag of dit individuele kodes soos skopboks of fietsry, of ’n spansport is, dit bly insiggewend met hoeveel diepte hulle al hul agter-die-skerms wedervaringe, emosionele stryde en motiverings deel.

PlayersVoice is byvoorbeeld een forum waarop Australiese rugby se waterskeidende dilemma met die hoogs begaafde Israel Folau en die verdelende invloed van sy homofobiese uitsprake op die “span eerste” kultuur van die kleedkamer deurgetrap is.

O’Grady se nuutste bydrae vanaf die kantlyn van die pas afgelope Tour de France is op sigself ’n openbaring.

Hy onthou oor sy eie ervaringe: “Die eerste paar skofte is baie intens en dit is wanneer jy geneig is om spierskade op te doen en energie vanweë senuagtigheid te verbrand. Ná vyf dae is jou bene amptelik poegaai. Dís wanneer die regte pyn van die toer begin.

“In die tweede week klim jy elke oggend uit die bed en jou bene bewe. Jy voel stukkend en jy dink: ‘Hoe de hel kan ek ’n 200 km skof deur die berge ry – ek kan skaars die badkamer haal?!’

“Jy gaan eet ontbyt met jou span, drink ’n paar koffies en eet iets. Jy het nog seer. As jy op die bus klim, is jou bene dood. As jy by die beginpunt aanmeld, voel jy maar redelik kaktus.

“Dan gebeur iets mal. Jy spring weg en skielik ry jy 60 km/h en dit is asof die skakelaar aan is. Die verstandelike deel van resies jaag neem oor. Dit maak nie saak wat jou bene sê of hoeveel pyn jy voel nie, jy doen jou werk of jy gaan huis toe.

“Dit gaan daaroor om voortdurend elke sekonde van elke dag deur die pyn te gaan. Daar is nie ’n kilometer van die wedloop waarin jy goed voel nie. Dit is óf jy voel regtig sleg, óf jy voel oukei. En die oukei dae is basies die beste waarop ’n fietsryer kan hoop.

“Jy moet net deur die slegte tye gaan en hoop die volgende dag loop beter.

“Jou eerste Tour is die moeilikste. Dit is wanneer jy leer wat jou liggaam en gees regtig kan hanteer. Dit is ’n steil leerkurwe, want jy probeer verskillende dinge om uit te vind wat werk en wat nie.

“As jy jou energie vermors met ’n solo-lopie of ’n sluwe aanval wat nie uitwerk nie, kan jy nie vir ’n ruskansie op die bankie wegbreek nie. Jy leer om elke hartklop, elke watt energie te bespaar, want oor drie weke en drie-en-’n-half duisend kilometer moet jy soveel as moontlik bespaar.

“Wanneer jy die Tour klaarmaak, het jou liggaam verander. Jy kyk na jou bene en ná drie weke waar jou hart bloed deur hulle gepomp het vir elke omwenteling van die pedale, steek jou are uit deur die vel en die spiere is verhard.

“Dit is wanneer jy sien hoe superfiks en skraal ’n fietsryer kan wees. Jy funksioneer op omtrent twee, drie of vier persent liggaamsvet, topfiks, soos ’n volbloed rasperd.

“Hoe dunner jy is, hoe meer is jou are geneig om uit te staan. Dit is ’n vormgids vir waar jy fisiek in die wedloop is. En ’n teken van hoeveel pyn jy self deurgemaak het . . .”

Sê wat jy wil van die Aussies, hulle sport is ligjare voor Namibië ontwikkel. Laat ons nou maar nie daaroor stry nie.

Teken gerus ’n boekmerk aan om af en toe by hierdie webblad in te loer as jy jou sport/(-mense) op ’n dieper vlak wil verstaan en ’n bietjie intellektuele inspirasie soek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!