Queen se kuiertjie gee Omaruru 'n stootjie
Queen se kuiertjie gee Omaruru 'n stootjie

Queen se kuiertjie gee Omaruru 'n stootjie

Des Erasmus
Des Erasmus



Aan jou vrinne sal jy geken word.

Eensklaps verkeer Omaruru in goeie geselskap danksy The Music of Queen soos vertolk deur Joseph Clark. Op 1 September gaan hy vir 'n hoogtepunt sorg tydens die Omaruru Kunstefees se aanbieding van ­Konserte onder die Sterre.

Dit gaan die tweede rivierkonsert van dié soort by vanjaar se kunste­fees wees - 'n opvolger op voor­afgaande jare se feeste.

Onder die sterre, want die verhoog gaan in die Omarururivierbedding staan. Dis ook die plek waar die gevierde Corlea Botha van Suid-Afrika die vorige aand al op die verhoog sou verskyn het.

Die status van Omaruru op Clark se konsertreis is, terloops, deur een kitaarspeler in sy orkes, Axe Lourens, verklap toe hy hul reisplan verstrek het. Die Queen-program is vyf agtereenvolgende konserte in die Kaapse Teatersentrum van 11 tot 15 Julie, in die Sun-arena op Times-plein in Pretoria (21 Julie), die Omaruru Kunstefees op 1 September, en vier konserte in die Rockwood-teater in Sibaya van 6 tot 9 September.

Daarna gaan Joseph Clark en die orkes se Europese toer begin met besonderhede van 'n reeks konserte wat nog verstrek gaan word.

Benewens Lourens is die ander ­orkeslede Kyle Petersen, Richard Brokenshaw, Peach van Pletzen en Shaun Johannes. Al die orkeslede is kunstenaars in eie reg wat spesiaal vir die Clark-toer gewerf is.

Clark self geniet wêreldaansien as die beste vertolker van Queen se musiek.

Van sy vertolkings is nie eers deur die Queen-leier, wyle Freddy Mercury, self gelewer nie.

Die opnames is net voor Mercury se dood in 1991 gemaak voordat hy daarmee verhoog toe kon gaan.

Van die beste werke van Queen waarmee die kunstenaars Omaruru toe kom, is “We will rock you”, “Another one bites the dust”, “We are the champions”, “I want to break free”, “Killer Queen”, “Fat bottomed girls”, “Bicycle race”, “Innuendo” en “Bohemian rhapsody”.

Die reeks in Suid-Afrika en op Omaruru volg op Joseph Clark en die orkes se onlangse toere deur die ­Nederlande en België.

Die samevoeging van al die lede in 'n groep het dit vir die kunstefees moontlik gemaak om finansieel met die sonderlinge konsert onder die sterre na vore te kom.

Altus Theart sal tydens die amptelike opening van die kunstefees op 30 Augustus optree. Theart is alombekend as Fafa in die kykNET-sepie Getroud met Rugby. Hy sal op 31 Augustus ook met Dis hoe 'n man se kop werk op die planke wees.

Tydens die amptelike opening sal Duitsland se Broomhill Band (Blues & Soul) optree.

In die eerste Konsert onder die Sterre sal Corlea Botha deur Johan Kelber van Suid-Afrika en die Con Spirito-orkes begelei word.

Op Saterdag 1 September sal die fees ook die nou befaamde Hayride (Kafdraf) aanbied.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer