R3 m. om Kubane se geskenke te vervoer
R3 m. om Kubane se geskenke te vervoer

R3 m. om Kubane se geskenke te vervoer

Meer as R6 miljoen is betaal om 100 Kubaanse werktuigkundiges wat in Suid-Afrika voertuie van die weermag regmaak, vir hul verlof Kuba toe te vlieg.
Erika Gibson



Suid-Afrikaanse belastingbetalers het pas sowat R3 miljoen betaal om 'n vragvliegtuig van die lugmag, volgelaai met die bagasie en geskenke van Kubaanse werktuigkundiges, na hul tuisland te stuur. Die 30 Kubaanse werktuigkundiges het kommersieel gevlieg – teen 'n verdere koste van R3,2 miljoen.

'n Groep van ongeveer 100 Kubaanse werktuigkundiges maak reeds die afgelope twee jaar op kontrak honderde van die weermag se flenters geryde voertuie reg en lei plaaslike weermagwerktuigkundiges op.

Luidens hul kontrak is hulle geregtig op 24 werkdae verlof vir elke 11 maande se diens. Die Kubane verkies blykbaar egter om hul verlof te laat oploop om elke tweede jaar vir langer tuis te gaan kuier. Hul lopende uitgawes word deur die weermag gedek.

Voor hul mees onlangse verlof het die Kubane blykbaar soveel geskenke vir die mense tuis gekoop dat dit te swaar was om as kommersiële bagasie saam te neem. Die lugmag het toe 'n Hercules C-130-vragvliegtuig van 28 Eskader teen nagenoeg R3 miljoen beskikbaar gestel om die berg geskenke Kuba toe te vlieg.

Volgens die vlugplan en radarroete het die vliegtuig op 18 Julie van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria vertrek waarna dit brandstof in Windhoek ingeneem het. Die nege tot tien uur tot op St. Helena in die middel van die Atlantiese Oseaan is die maksimum reik­wydte van die vliegtuig, en kundiges sê die bemanning sou in die knyp gewees het as die lughawe op St. Helena weens slegte weer gesluit moes word. Dié lughawe is onlangs voltooi en juis berug vir sy onvoorspelbare wind en weer.

St. Helena se inwoners was in rep en roer oor dié geskiedkundige landing aangesien geen ander Suid-Afrikaanse lugmagvliegtuig nog op die eiland geland het nie. Die weermag het egter geswyg oor dié mylpaal. Die eilandowerheid het die landing by navraag as 'n “geskeduleerde tegniese landing deur die Suid-Afrikaanse lugmag” beskryf.

Die vliegtuig is toe via Recife tot in Barbados voordat dit in Havana, Kuba, geland het, ook die eerste keer dat 'n C-130 van die lugmag daar land.

Met die terugkomslag was die vliegtuig tydelik op Recife gestrand weens 'n tegniese probleem. Dié strydrosse is immers al langer as 50 jaar in diens. Die vliegtuig het dié week weer veilig op eie bodem geland.

Sover Netwerk24 kon vasstel, sal daar nie 'n bagasievlug nodig wees om die Kubane ná hul vakansie terug te kry nie. Die weermag het nie op navrae gereageer nie, maar wel in 'n verklaring gesê genl. Solly Shoke, weermaghoof, het einde Junie die gradeplegtigheid van Suid-Afrikaanse soldate wat in Kuba studeer, bygewoon. Shoke en sy afvaardiging het ook kommersieel gevlieg. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!