Raad as jy 2019 diep in die skuld begin
Raad as jy 2019 diep in die skuld begin

Raad as jy 2019 diep in die skuld begin

Karin Eloff
Hanlie Stadler – Selfs al daal die petrolprys vandag met ’n stewige R1,23 per liter (en diesel met R1,55), gaan 2019 allermins ’n maklike jaar vir verbruikers wees.

Stygende kospryse en algemene inflasie, stygende werkloosheid en bes moontlik ook ’n styging in die rentekoers sal die druk op verbruikers volhou.

Heelparty uitgawes word ook in Januarie meer – van jou mediesefondspremie tot jou gimnasium-lidmaatskap.

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldbemiddelingsfirma Debt Rescue, sê hulle berei hulle op ’n besige paar maande voor.

“Ons weet uit mediaberigte dat verbruikers baie op Swart Vrydag, Kuber-Maandag en die Kersvakansie bestee het. Dit gaan ernstige negatiewe gevolge vir verbruikers hê wat diep in die skuld is.”

PwC het in sy verslag oor Swart Vrydag berig dat twee uit elke drie volwasse Suid-Afrikaners waarskynlik iets oor dié inkopienaweek bestee het.

Roets beskou dit as ’n ligpunt in dié verslag dat dit tog lyk asof baie mense gehoor gegee het aan die waarskuwings van skuldberaders en liggame soos die nasionale kredietreguleerder dat mense nié meer moet bestee as wat hulle kan bekostig nie.

“Daar is ’n soort gekheid wat verbruikers oor die vakansie beetpak wat beteken dat besteding irrasioneel raak. Dit word nie gehelp deur die enorme advertensieveldtogte wat kleinhandelaars dié tyd van die jaar voer om besteding aan te moedig nie.

“Ons in die skuldberadingsbedryf sien uiters negatiewe gevolge van fuif-inkopies in die daaropvolgende jaar wanneer ons verbruikers moet help met die berge skuld wat hulle aangegaan het.

“Die een opmerking wat ons heeltyd kry, is die gevoel van eiegeregtigheid: Omdat ander mense inkopies doen, voel hulle geregtig om aan die inkoop-stormloop deel te neem.”

Werkloosheid beloop tans 27,5% en belangrike sektore soos vervaardiging en mynbou is onder enorme druk. Roets verwag dat dié sektore ook in 2019 werkverliese sal ondervind.

Hy is ook bekommerd oor grondonteiening sonder vergoeding, wat boere kan oorreed om op te hou boer, en oor die droogte in dele van die somergraanstreke.

Hoewel goeie reën die naweek in dele van die Vrystaat en Noordwes geval het, berig Alet van der Walt dat dit vir baie saaiboere steeds nie genoeg was om te plant nie. Die tyd raak nou min om mielies te plant.

Lees ook: Ná hittegolf kom swaar reën, droogte nie orals gebreek

Roets sê baie mense het nie behoorlik begroot oor die feestyd nie en brand in Januarie vas wanneer skoolgelde betaalbaar is.

Baie mense leen ten duurste geld op winkelkaarte, kredietkaarte of by mikroleners – skuld wat teen baie hoë rentekoerse aangegaan word. Byna die helfte van kredietaktiewe Suid-Afrikaners is drie maande of langer agterstallig met van hul rekeninge.

6 wenke met jou skuld

Mense wat oorweldig voel deur hul skuld, moet so gou as moontlik ’n plan opstel – insluitend ’n begroting. Hier is jou plan van aksie:

1. Maak ’n lys van al jou skuld

Om dit te ignoreer en vir die beste te hoop, gaan dit nie laat verdwyn nie!

2. Stel ’n begroting op

Maak ’n lys van al jou verpligte uitgawes, insluitend die minimum paaiement op al jou skuld, en maak die somme totdat dit klop!

3. Sny luukse besteding, al is dit tydelik

Om jou skuld te verminder sal jy móét besnoei, selfs aan dinge wat jy nou as alledaags en vanselfsprekend bestempel. Bekyk elke liewe uitgawe en vra jouself af of dit ’n maand of twee laat vaar kan word ter wille daarvan dat jy uit die ergste skuld kan kom. Gradeer byvoorbeeld jou televisiepakket af totdat jou kredietkaart afbetaal is of moenie ’n nuwe selfoon op kontrak kry as jou tweejaarkontrak verstryk het nie.

4. Skaal jou leefstyl af

As klein besnoeiings soos om ’n goedkoper betaaltelevisiepakket te betaal nie genoeg is nie, sal jy besluite oor jou groot uitgawes moet neem. Dis immers beter om ’n kleiner huis te koop as om sonder ’n huis te sit as jy nie meer jou paaiement kan bekostig nie. Dalk kan jul gesin begin deur een motor te verkoop of dalk is die private skool of ekstra tennis- of klavierlesse vir die kinders net nie meer haalbaar nie.

5. Praat met jou versekeraar, bank

Daar is altyd maniere om minder vir versekering te betaal en selfs om die rentekoers op jou huisverband te verlaag. Dis dalk ’n bietjie moeite, maar iets wat jy gerus een keer per jaar met al jou kontrakte kan doen. Maak net seker jy weet wat jy doen. Dis maklik om jou versekeringspaaiement te verlaag, maar dan moet jy dalk ’n groter bybetaling betaal in die geval van ’n motorongeluk of diefstal.

6. Kry hulp

As bogenoemde stappe nie help nie, moet jy dalk skuldberading oorweeg. Teen ’n vaste koste kan skuldberaders namens jou onderhandel met jou krediteure vir ’n laer rentekoers en/of ’n langer terugbetalingstydperk wat die druk op jou maand-tot-maand-begroting kan verlig.

Terwyl jy in skuldberading is, mag niemand beslag lê op jou goedere nie.

Onthou egter dat jy geen nuwe skuld sal kan aangaan terwyl jy in skuldberading is nie – nie eens ’n nuwe selfoonkontrak nie.

Dis nie ’n kitsoplossing nie, maar dis ’n beter opsie as om jou huis, motor of ander besittings weens ’n skuldvonnis teen jou of weens sekwestrasie te verloor. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!