Raar maar waar: Reën in Junie

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Om in Junie uit die bloute deur gietende reën verras te word, het Namibiërs Dinsdag van oor tot oor laat glimlag.
Deon Eysele het in die argiewe gaan dolwe en op interessante reënvalstatistiek oor winterreën in Windhoek afgekom.
Die afgelope 125 jaar het dit net 17 keer gebeur dat reënneerslae in Junie in Windhoek voorgekom het.
Sedert 1891 toe begin is om weerstatistiek amptelik aan te teken, is die eerste winterreën in 1893 aangeteken toe dit daardie jaar in Junie 3 mm gereën het. Eers weer 14 jaar daarna is neerslae in Juniemaand ontvang toe 2 mm in 1907 aangeteken is.
Die hoogste neerslag dusver in Junie is 61 jaar gelede aangeteken toe 19,5 mm in 1955 gemeet is. Die hoogste winterreënvalsyfers daarna was 1961 se 18,7 mm, 1926 se 12,5 mm en 1983 se 10,9 mm.
Interessant toon reënvalsyfers sedert 1891 dat bogemiddelde reënvalsyfers aangeteken is in die jare waarin winterreën voorgekom het. Daar was enkele uitsonderings, maar in vyf van dié jare, is gemiddeld meer as 500 mm vir daardie seisoen aangeteken.
Trouens, seisoensyfers van drie van daardie jare, tel onder die hoogste neerslae wat nog aangeteken is.
Die hoogste aangetekende reënvalsyfers vir Windhoek in een seisoen (gemeet vanaf 1 Julie tot 30 Junie die volgende jaar), was gedurende die 2010-’11-seisoen toe altesaam 1 283 mm gemeet is. Dit word gevolg deur die 767 mm in 1933-’34, 757 mm in 1908-’09, 672 mm in 1982-’83 en 666,5 mm in 1949-’50.
Op die Facebook-blad van Namibië Boere skryf Frans van Zyl dat hy berigte ontvang het dat dit Dinsdag 70 mm op Arandis gereën het. Volgens ou inwoners van die dorp het dit laas in 1967 in Junie daar gereën.
Op dieselfde Facebook-blad het Corné Boshoff laat weet op Melrose, suid van Windhoek, het 25 mm reën geval.
In Windhoek het dit tussen agt en 20 mm gereën.
Dit het plek-plek met hael gepaard gegaan. In sommige dele van die hoofstad was dit so erg dat motoriste van die pad moes aftrek.
Volgens die hoof van weervoorspellingsdienste van die weerkantoor in Windhoek, mnr. Odillo Utsile Kgobetsi, het dit wyd langs die sentrale kus en westelike dele van die land gereën. Altesaam 4 mm is by die Walvisbaai-lughawe aangeteken.
Aanduidings is dat ongeveer 50 mm Dinsdag in die omgewing van die Husab-uraanmyn gemeet is. Dit is hoogs uitsonderlik, veral as in ag geneem word dat die gemiddelde jaarlikse reënval wat oor ‘n tydperk van 100 jaar daar gemeet is, minder as 10 mm is.
Volgens die weerkantoor is dié buitengewone reënweer nou eers verby en sonnige toestande word vir vandag en môre vir die binneland voorspel. Enkele wolke kan in die verre Noordooste van die land voorkom. Aan die kus het oosweertoestande ingetree en die verwagting is dat warm tot baie warm toestande sal heers en dat sandstorms kan voorkom.
Die suidelike streke kan teen Saterdag koue verwag wanneer die frontale stelsel van die Kaap af begin inbeweeg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!