Radikale ekonomiese transformasie nodig
Radikale ekonomiese transformasie nodig

Radikale ekonomiese transformasie nodig

Indringende vrae oor die uiteindelike invloed van die ekonomiese rommelstatus van die Suid-Afrikaanse ekonomie word nou gevra.
Die afgelope maand is reeds baie geskryf en gepraat oor Suid-Afrika se kredietafgradering tot rommelstatus. Verlede week het prof. Johan Willemse 'n baie duidelike uiteensetting gegee van wat die gevolge van die rommelstatus in die volgende jaar gaan wees. Maar hoe lyk die langer­termyn-implikasies vir Suid-Afrika? vra die onafhanklike ekonoom, Ulrich Joubert.

“Sedert die ­afgradering tot rommelstatus het ons nog relatief min veranderings in die ­plaaslike finansiële markte gesien. Die rand het ná 'n aanvank­like verswakking weer matig herstel, maar verswak nou weer omdat kommoditeitspryse skerp daal. Rentekoerse is nog nie aangepas nie en die hui­dige vlak van ­plaaslike rentekoerse het die afgelope tyd gehelp om die rand te ondersteun en sal dit moontlik ook in die toekoms kan vermag in­dien verdere kredietafgraderings ons nie te beurt val nie.

“Saam met ons is die Reserwebank wel bekommerd dat verdere afgraderings kan plaasvind. Dit sal gebeur as ons nie finansiële dissipline handhaaf en ekonomiese groei aan die gang kry nie,” sê hy.



Onsekerheid oor finansiële dissipline

Joubert sê sover dit finansiële dissipline betref, hang dit baie af van die beleid wat die nuwe politieke leiers en hul span by die tesourie in komende maande en jare sal volg. Tans verseker die huidige minister, Malusi Gigaba, dat hy nie sal afwyk van die bestaande beleid nie. Daar is egter onsekerheid oor die mate waarin hy en sy span onder druk sal kom om wel die president en sy vriende ter wille te wees, of meer sosia­lisme te moet toelaat wat die staatfinansies onder verdere druk sal plaas.

“Beteken radikale ekonomiese transformasie dat staatsinmenging in die ekonomie afneem en bydra tot meer effektiewe werkverrigting in die ekonomie sodat groei versnel en meer werkgeleenthede geskep word? Of beteken dit dat die bestaande ekonomiese bates net onder meer mense verdeel word en armoede eintlik toeneem? Dit terwyl die risiko bestaan dat ons nie die nodige buitelandse kapitaal gaan kry om ekonomiese groei te ondersteun nie.



Déjà vu

“Die huidige situasie herinner baie aan dit wat in die middel-80's in Suid-Afrika gebeur het en uiteindelik tot die Skuldstilstand gelei het. Die onderliggende faktore was eweneens die politieke omgewing.

“Eerstens het die destydse verbanne ANC, asook sy simpatieke binnelandse en buitelandse ondersteuners verskerpte sanksies teen die land bepleit.

“Tweedens was daar die oor-optimistiese verwagtinge dat die Rubicon-toespraak van 1985 in Durban omvangryke veranderings in die binnelandse politieke bestel sou aankondig. Omdat daar aan feitlik geen van die verwagtinge in die toespraak voldoen is nie, was die teleurstelling des te groter.

“Weens hierdie buitelandse druk en die teleurstelling het Amerikaanse en ander buitelandse banke besluit om lenings wat tot in daardie sta­dium aan Suid-Afrika toegestaan was, nie te hernu nie en ook nie nuwe lenings toe te staan nie.

“Buitelandse lenings moes dus terugbetaal word, sonder dat nuwe kapitaal die kapitaalhonger land binnekom.

“Die gevolglike druk op die betalingsbalans het die Reserwebank genoodsaak om die Skuld­stil­stand aan te kondig, wat meegebring het dat die buitelandse skuld oor baie jare aan die kredietverskaffers terugbetaal is.

“Weens die gebrek aan investeringskapitaal en omdat die ­binnelandse vraag gedemp moes word om die betalingsbalans te beskerm, is die land se groeikoers benadeel totdat sanksies ná die 1994-verkiesing opgehef is en die land weer vrye toegang tot die internasionale finansiële markte gehad het. 'n Groot persentasie van die groei wat die land sedert 1994 ervaar het, was aan die flink groei in verbruiksbesteding toe te skryf.

“Dit was egter nie net finan­siële kapitaal wat die land in die 80's verlaat het nie. Baie buitelandse asook plaaslike mensekapitaal of kundigheid, wat hier werksaam was en gehelp het om die ekonomie te laat groei en werk te skep, het destyds en sedertdien die land verlaat.

Verdere afgraderings kan die geskiedenis hom laat herhaal

“Indien verdere afgradering van die land se kredietstatus volg, sal ons weer eens in dieselfde situasie as in die tydperk 1985 tot 1994 wees – hierdie keer weens die onnadenkende optrede deur die ANC se politieke leier.

“Dit sal tot 'n verdere uitvloei van buitelandse en plaaslike beleggings uit ons finansiële markte lei en ons toegang tot internasionale finansiële markte geweldig beperk.

“Dit sal die plaaslike ekonomiese langtermyngroei beperk tot minder as die huidige 2%-groeipotensiaal weens veral die afwesigheid van investeringskapitaal, aandeelpryse laat daal wat pensioenfondse en pensioenarisse nadelig sal tref, “werkloosheid en dus sosiale onrus sal laat toeneem en die landsburgers in die algemeen verarm.

“Dit sal ook tot 'n verdere uitvloei van kundigheid en veral van jongmense uit die land lei – iets wat die land allermins kan bekostig omdat dit die langtermyn-groeipotensiaal nóg meer sal beperk.

“Die regering asook die regerende politieke party sal in die komende maande en jare ernstig moet besin oor politieke skuiwe en die regeringsbeleid – veral wat die ekonomie betref – indien hulle die belang van die algemene kieser en inwoner van die land op die hart dra en sorg wil dra dat die land weer sy beleggingstatus herwin,” sê Joubert.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!