Ramaphosa na AU-noodberaad in Egipte
Ramaphosa na AU-noodberaad in Egipte

Ramaphosa na AU-noodberaad in Egipte

Die president en sy afvaardiging het Maandag na die AU Troika-beraad vertrek wat pres. Abdel Fattah el-Sisi van Egipte, in sy hoedanigheid as AU-voorsitter, saamgeroep het.
Llewellyn Prince



Pres. Cyril Ramaphosa sal 'n noodberaad van die Afrika-unie (AU) in Egipte bywoon waar die ­politieke en veiligheidskrisisse in Soedan en Libië bespreek sal word.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, sê die president en sy afvaardiging het Maandag na die AU Troika-beraad vertrek wat pres. Abdel Fattah el-Sisi van Egipte, in sy hoedanigheid as AU-voorsitter, saamgeroep het.

Ramaphosa word vergesel deur Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en Dipuo Letsatsi-Duba, minister van staatsveiligheid.

Die beraad sal volgens Diko ook bygewoon word deur Moussa Mahamat Faki, AU-kommissievoorsitter, wat na verwagting verslag sal doen oor AU-inisiatiewe om die krisisse in die twee lande op te los.

Volgens Diko dien die krisisse in die twee lande ook reeds voor die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, waarvan Suid-Afrika 'n nie-permanente lid is.

“Pres. Ramaphosa het streeks- en kontinentale vrede, stabiliteit, veilig­heid en integrasie en ontwikkeling geprioritiseer en sal die noodberaad bywoon om by te dra tot die AU se doelwit om die vuurwapens in die twee lande teen 2020 stil te maak,” sê Diko.



BETOGINGS

Intussen het Reuters Maandag berig hoe Soedan tans steeds op 'n mespunt is sedert die omstrede Omar ­al-Basjir op 11 April as staatshoof deur die weermag verwyder is ná weke lange betogings.

Die land ervaar 'n ekonomiese krisis wat gelei het tot kontanttekorte en lang rye by onder meer bakkerye en petrolstasies. Ontleders blameer die krisis op ekonomiese wanadministrasie, korrupsie en die uitwerking van Amerikaanse sanksies.

Die nuusdiens het Maandag verder berig hoe Saoedi-Arabië en die ­Verenigde Arabiese Emirate (VAE) ooreengekom het om US$3 miljard in kontant en noodlediging na Soedan te stuur.

Dit is te midde van voortdurende twis tussen die militêre oorgangs­raad en betogers en opposisiegroepe wat eis dat burgerlikes 'n oorgangsperio­de van twee jaar moet lei. Reuters berig daar is Maandag ook ­bevestig dat Al-Basjir en 'n aantal top-­regeringsamptenare van Soedan in die Kobar-gevangenis in Khartoem aangehou word.



KORRUPSIE

Hulle sal van korrupsie aangekla word. Vroeër is ook berig dat die owerhede €7 miljoen en US$350 000 in kontant in Al-Basjir se huis gekry het.

Oor Libië het die Britse The ­Guardian berig hoe verskeie lugaanvalle Tripoli Saterdagnag geruk het soos wat die VAE-gesteunde aanval op die hoof­stad toegeneem het wat deur Khalifa Haftar gelei word.

Daar is hiertydens glo ook vir die eerste keer van gewapende hommeltuie gebruik gemaak.

Haftar is 'n voormalige generaal in Moeammar Ghaddafi se weermag en leier van die oostelike Libiese nasio­nale leër.

Die doel van Haftar se aanvalle is luidens The Guardian om die Amerikaans erkende regering in Tripoli tot 'n val te bring.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!