Ramaphosa verkies tot AU-voorsitter
Ramaphosa verkies tot AU-voorsitter

Ramaphosa verkies tot AU-voorsitter

Luidens ’n 2018-opname van Transparency International is ses van die tien mees korrupte lande ter wêreld in Afrika.
Pres. Cyril Ramaphosa is verkies tot voorsitter van die Afrika-unie (AU). Hy neem die voorsitterskap in 2020 oor van Egipte se pres. Abdel Fattah el-Sisi.

Leiers van regoor Afrika het die naweek in Addis Ababa, hoofstad van Ethiopië, vergader vir die 32ste sitting van die AU. Die sitting word ook bygewoon deur sakelui soos Bill Gates en verteenwoordigers van die Verenigde Nasies, waaronder sy sekretaris-generaal, António Guterres.

Vanjaar se sitting, wat gister ten einde geloop het, fokus skerp op die lot van vlugtelinge in Afrika en die impak wat konflik het op gedwonge immigrasie.

Ander punte op die agenda is die stand van handelsooreenkomste tussen lande in Afrika, die bekamping van besoedeling en die bevordering van gesondheid.

Die AU is in 2001 gestig as plaasvervanger vir die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) en het 55 lidstate. Dit is destyds gestig onder die vaandel dat dit “Afrika-oplossings vir Afrika se probleme” sal ontwikkel, maar kritici meen daar is gemengde gevoelens oor die sukses van die organisasie.

DRK, BURUNDI

Een van die doelwitte tydens die stigting was die bevordering van demokrasie op die vasteland, maar dit blyk een van die grootste uitdagings vir die AU te wees, met voortslepende geweld in lande soos die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Mali en Somalië en hernude onstabiliteit in lande soos Zimbabwe.

Met verlede jaar se verkiesings in die DRK het die AU byvoorbeeld ’n oproep op dié land gedoen om die aankondiging van die finale uitslag eers op te skort, maar die DRK het dit bloot geïgnoreer.

In 2015 het Burundi se pres. Pierre Nkurunziza homself – strydig met sy land se grondwet – vir nóg ’n termyn verkiesbaar gestel in ’n verkiesing wat deur die opposisie geboikot is.

Dodelike geweld het uitgebreek, waarna die AU gesê het hy sal vyfduisend vredesoldate na Bujumbura stuur. Burundi het teruggekap en gesê hy sal dit as ’n “inval” beskou, waarna die AU sy aanslag versag het en “waarnemers” na die land gestuur het.

KORRUPSIE

Die organisasie sukkel ook om korrupsie op die vasteland te beveg. Afrika verloor volgens die AU jaarliks meer as US$140 miljard weens korrupsie – geld wat vir onderwys, gesondheid en infrastuktuurontwikkeling aangewend kan word.

Luidens ’n 2018-opname van Transparency International is ses van die tien mees korrupte lande ter wêreld in Afrika.

Pres. Paul Kagame van Rwanda, wat voor El-Sisi voorsitter was van die AU, het verlede jaar in ’n verklaring gesê die bevordering van vrede op die vasteland is een van die liggaam se kerndoelwitte. “Ons het tot op hede egter geen geloofwaardige meganisme gekry om hierdie prioriteit te befonds nie. Ons is te afhanklik daarvoor van eksterne hulpbronne.”

Die AU worstel ook met die kwessie van seksuele teistering. Luidens ’n interne ondersoek wat die AU verlede jaar van stapel gestuur het, is meer as driedosyn vroue wat vir die organisasie werk “uitgebuit vir seks in ruil vir poste”. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!