Ramatex word dalk mediese spilpunt
Ramatex word dalk mediese spilpunt

Ramatex word dalk mediese spilpunt

Die projek se hooffokus sal op aansteeklike siektes wees, sê 'n voormalige gesondheidsminister.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes



Die voormalige minister van gesondheid, dr. Bernard Haufiku, sê die ministerie sal mediese navorsing prioritiseer en toegang tot kwaliteitgesondheidsorg bevorder by die eertydse Ramatex-klere- en tekstielfabriek in Windhoek, wat tans in 'n hospitaal omskep word.

Hy sê hulle beoog om navorsing oor siektewaarneming en epidemiologie – in samewerking met internasionale navorsers – te versterk.

“Dit gaan nie 'n gratis dienshospitaal wees nie, want daar sal verpleegsters en dokters werk en logistieke en ondersteuningsdienste wees. Water- en elektrisiteitstoevoer sal beskikbaar wees, en dit sal alles geld kos.

“Ons wag tans op die mense wat die sakeplan opstel om te bepaal watter plan ons gaan volg,” het Haufiku gesê.



NIE VIR WINSBEJAG

Volgens Haufiku sal die projek as 'n Artikel 21-maatskappy, ofte wel 'n nie-winsgewende onderneming, bestuur word, en die hooffokus sal op aansteeklike siektes wees.

“Ons wil die kwaliteit van en toegang tot gesondheidsorg probeer balan­seer. Om toegang tot gehalte- en bekostigbare gesondheidsorg vir soveel mense te bied, moet jy miskien die element van wins uithaal.

“Daarbenewens beskou ons hierdie projek as 'n aansteeklike siekte-projek, wat Covid-19 en moontlik ander aansteeklike siektes van nasionale gesondheidsbelang insluit,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg hoewel die aantal Covid-19-infeksies kan daal as gevolg van hoër inentingsyfers, sal Covid-19 nie net verdwyn nie.

“Ons het ander gevalle van moontlik gevaarlike uitbrekings gehad en ons kan nie met sekerheid sê daar sal nie meer Covid-19 wees nie; daar sal nog vir tyd en wyl Covid-19-gevalle wees.

“Dit is 'n dinamiese proses; ons sal kyk watter ander aansteeklike siektes ons kan akkommodeer – miskien iets soos TB wat teen medisyne bestand is.

“Die projek sal aanvanklik as 'n nasionale noodgesondheidsorgsentrum geopen word, en dit kan maklik in 'n hospitaal vir aansteeklike siektes omskep word,” het hy gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!