Rammetjie-uitnek oor getalle
Rammetjie-uitnek oor getalle

Rammetjie-uitnek oor getalle

Suider-Afrikaanse gebiede huisves nou die wêreld se grootste kameelperdbevolking, alhoewel kenners bekommerd oor die verbastering van die subspesies is.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Kameelperdgetalle oraloor Afrika het oor die afgelope ses jaar gemiddeld ’n toename van tot 20% getoon.

Dis die eerste keer in die onlangse geskiedenis dat só ‘n tendens voorkom.

Die Kameelperdbewaringstigting (GCF) sê in hul 2020–’21-jaarverslag wat die afgelope week uitgereik is, dit is goeie nuus en blyk dat bewaringspogings klaarblyklik suksesvol is.

Ook in Suider-Afrika het die bevolkingsgetalle van die Suidelike kameelperd sedert 2015 van sowat 36 135 individue met 33% gegroei. Verlede jaar het die syfer op 48 016 gestaan, wat beteken Suider-Afrikaanse gebiede huisves nou die wêreld se grootste kameelperdbevolking.

Daar is gevolglik die minste kommer oor dié kameelperdgroep, wat inheems aan lande soos Namibië, Angola, Botswana, Eswatini, Malawi, Mosambiek, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe is. Van die kameelperde is intussen ook in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Nigerië en Senegal gevestig.

VERBASTERING

Die GCF sê die Suidelike kameelperd bestaan uit twee subspesies, naamlik die Angolese kameelperd asook die Suid-Afrikaanse kameelperd.

“In die vroeë 20ste eeu was Suidelike kameelperdbevolkings bykans uitgeroei, maar oor die afgelope dekades het hul getalle herstel,” skryf die GCF.

“Die uitbreiding van hul habitat in formeel beskermde gebiede asook op kommunale en privaat grond; die intensiewe bestuur van hul getalle asook hervestigings van dié kameelperde, het moontlik gehelp om hul getalle te herstel.

“Dit het egter waarskynlik ook tot die verbastering van die twee subspesies gelei, wat hul genetiese eiesoortigheid en biodiversiteit bedreig.

“Doelgerigte navorsing is nodig om die impak van die verbastering beter te verstaan,” skryf die GCF.

Die stigting sê die 48 016 sluit meer as 3 000 kameelperde uit wat kruisings van die Suidelike kameelperd se subspesies is of intussen elders – buite Suider-Afrika – gevestig is.

ANDER SPESIES

Die stigting sê egter die ikoniese kameelperd en hul habitat word oraloor ernstig bedreig.

Die noordelike kameelperd in Oos-, Sentraal en Westelike Afrika word as krities bedreig beskou, met net sowat 5 919 individue oor. Hul getalle het egter met 24% sedert 2015 toegeneem, toe daar net sowat 4 774 oor was.

Daarnaas is die geretikuleerde kameelperd ook bedreig, met net sowat 15 985 individue van dié subspesie wat nog in Kenia, Somalië en Ethiopië oor is. Hul getalle het sedert 2015 met 85% gestyg, maar die GCF meen dit is omdat daar intussen ‘n beter sensusopname van ware getalle gemaak is.

Die Masai-kameelperd se getalle het oor die afgelope ses jaar met soveel as 44% in Oos-Afrika, dele van suidelike Kenia asook die sentrale en noorde van Tanzanië vermeerder. Hul getalle staan nou op 45 402 teenoor 31 611 in 2015. Tog meen GCF hul bewaringstatus is steeds kwesbaar.

“Die groeiende syfers van die Masai-kameelperde is ‘n positiewe neiging, wat toegeskryf kan word aan ‘n kombinasie van verbeterde en geteikende sensusopnames asook suksesvolle bewaringspogings,” sê die GCF.

VIER SPESIES

GCF sê kameelperde word as ‘n enkele spesie deur die Wêreldbewaringsorganisasie (IUCN) as “kwesbaar” geklassifiseer.

Volgens die stigting vaar die klassifikasie van kameelperde as vier verskillende spesies beter in die definiëring van die langnekke se onderskeie bewaringstatusse.

“Die goeie nuus is dat kameelperdsyfers oraloor aan die toeneem is en dat dit met 20% sedert 2015 gegroei het – oor al vier spesies.

Die GCF is werksaam in 16 Afrikalande, insluitend Namibië. Dit het ‘n invloed op meer as 100 miljoen hektaar grond wat as kameelperdhabitat gereken word.
[email protected]

FOTO PIXABAY

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!