Rampgeld vir droogte gans te min
Selfs al sou die Suid-Afrikaanse regering geld bewillig om die droogtegeteisterde Kaapprovinsies te help, is die geld wat beskikbaar is nie genoeg om eens 'n duik te maak nie, sê Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne.
Dít terwyl die droogte volgens kenners gedeeltelik mensgemaak is.
Die nasionale begroting vir rampe is R6 miljard, maar net die landbousektor in die Wes-Kaap se verliese weens die droogte word reeds op R5,9 miljard beraam, luidens 'n verslag van die Wes-Kaapse departement van landbou en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid.
Bianca Capazorio, woordvoerder van die departement van ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, sê die departement het reeds voor die droogte R136 miljoen van die nasionale regering gevra vir veevoer. Bykomende geld gaan gevra word vir humanitêre hulp vir werkers.
Nog R679 miljoen is gevra om waterbronne van vier munisipaliteite in die provinsie mee aan te vul, sê James-Brent Styan, woordvoerder van die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
Maar dis nie net landbou wat hulp nodig het nie; plaaslike regering gaan ook geld nodig hê – en nie net in die Wes-Kaap nie, maar ook in die Oos-Kaap en die Noord-Kaap.
Boonop het Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die afgelope week toe hy die ramp verklaar het daarop klem gelê dat dit nié “primêr is sodat geld gevra kan word nie”.
Die R6 miljard in die begroting is vir alle rampe, nie net droogte nie. Mkhize sê die begroting sluit ramphulptoelae van R501,2 miljoen vir provinsies en munisipaliteite in.
Volgens Mkhize is hul grootste kommer werksverliese van plaasgemeenskappe. Hulle oorweeg om die personeelgetalle van die Werk vir Water-programme te verhoog. Dit is 'n program wat indringerspesies in al nege provinsies uitroei.
Rabie sê “die bietjie geld wat daar is” moet reg aangewend word. “Dan sal boere dalk kan oorleef en 'n nuwe seisoen begin.”
In die Wes-Kaap het baie boere wingerde en boorde uitgehaal en hulle gaan geld nodig hê om dit te hervestig.
In die Oos- en Noord-Kaap moes baie boere hul hele kudde uitslag.
Boere het ook geld nodig om hul skuld te delg. Sommige boere moet al vir 'n vyfde of selfs sesde jaar vra dat skuld aan byvoorbeeld koöperasies oorgedra word, en kredietverskaffers kan dit nie langer bekostig nie.
Rabie sê in al drie provinsies het boere reeds ondergegaan en nog sal waarskynlik in hierdie jaar uitboer. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê dit is belangrik om hierdie keer seker te maak daar is 'n behoorlike oudit van die geld wat uitgedeel word. Hulle vergader vandeesweek met die departement.
Agri SA het verlede jaar gesê net 5% van die R1 miljard wat die regering vir droogtehulp aan kommersiële en opkomende boere toegewys het, het die boere bereik.
Hulle het die openbare beskermer en ouditeur-generaal gevra om ondersoek in te stel na wat van die res van die geld geword het. Agri SA se eie ondersoek dui daarop dat van die maatskappye wat droogtehulp moes verleen, glad nie bestaan nie en nêrens geregistreer is nie.
Die Noord-Kaapse departement van landbou het dié week aanbeveel dat geen middelmanne gebruik moet word om droogtehulp uit te deel nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie