Ramphulp u2013 na binne en buite
Ramphulp u2013 na binne en buite

Ramphulp – na binne en buite

Dani Booysen
Teenoor ‘n droogte wat nie net in Namibië nie, maar ook elders in die streek ‘n toenemende tol eis, staan die ramp as gevolg van sikloon Idai, wat reeds minstens 750 lewens in drie Suider-Afrikaanse lande geëis het.

Dramatiese, direk teenoorgesteldes.

Verlede week het pres. Hage Geingob se kabinet ná gesprekke met boere in die land droogtehulp ter waarde van meer as N$570 miljoen aangekondig. Die geld sal vir subsidies, voedselbystand, die vervoer van vee en veevoer, die huur van noodweiding en watertenkswaens betaal.

Die hulp is welkom en word met ope arms ontvang.

Teen verlede week het twee private droogtefondse gesamentlik reeds meer as N$3,2 miljoen gegenereer.

Georganiseerde landbou se beplande verdere gesprekke met die regering oor droogtehulp moet nie as ondankbaarheid gesien word nie.

Een van hul standpunte is dat die situasie nou selfs meer benard as in 2013 is en dat ‘n noodtoestand geregverdig is. Só ‘n besluit kan meer hulp uit binnelandse en buitelandse bronne help mobiliseer. Die verligting of opheffing van uitvoerregulasies kan noustrop-boere ook bevoordeel.

Dié punte moet by die regering tuisgedryf word.

Soos ‘n goeie streeks- en wêreldburger het Namibië reeds medelye met die mense van Mosambiek, Malawi en Zimbabwe betoon. Pres. Hage Geingob het aangekondig die land sal vis skenk vir diegene wat deur die ramp getref is. Dit sal goed wees as Staatshuis die hulp kwantifiseer.

Selfs in moeilike tye moet ons bereid wees om vir ander – na binne en buite – die spreekwoordelike brood op die water te werp.

So sê ander

25 Maart 2019

Beeld sê

Die positiewe ophef wat gemaak word van die leiers- en versoeningsrol wat Jacinda Ardern, premier van Nieu-Seeland, speel, is geregverdig.

Haar ongekende uitreiking oor ideologiese, kulturele en godsdienstige grense heen bied globale hoop.

Sy moet, terloops, ook geloof word vir haar onmiddellike inkorting van die verkoop van sekere soorte aanvalsgewere. Iets wat Australië jare gelede al ’n veiliger land gemaak het, al maak die onwilligheid om dit in Amerika te doen skole en universiteite daar steeds onveilige teikens.

Alle lande op die wêreldkaart word toenemend vanweë demografiese werklikhede ’n mikrokosmos van uiteenlopende belangegroepe. Die uitdaging is hoe om dit te oorbrug tot onwrikbare vreedsame naasbestaan. Sukses daarmee gaan die fundamentaliste se suurstof afsny.

Ardern het egter verder gegaan en haar woorde in dade omskep in ’n ongekende kragtoer van uitreiking en versoening. En daarvoor kry sy groot steun in haar land en van vredeliewendes wêreldwyd.

Die wil om ’n reg op te eis om iemand oor enige verskil te haat, gaan die wêreld noodwendig ’n slegter plek maak.

Om vredesoekers verdag te maak, is een van die toenemende verskynsels van ons tyd en is veral die tydverdryf van diegene wat hul beroepspolitiek bedryf op die rou emosie van uitvaar teen ander. Ons kort meer van Ardern se kaliber, en gou.

Sy straal die benadering uit wat Nelson Mandela eens in Suid-Afrika uitgestraal het, maar politieke bullebakke bevraagteken sy nalatenskap deesdae ook te veel.

Intussen kan gewone mense in hul handel en wandel die vredesboodskap begin uitleef.

• BEELD (NETWERK24)

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer