Rampsituasie in Mosambiek

Reddingswerkers vertel van die gevolge van Idai wat as een van die ergste tropiese siklone bestempel word wat Afrika en die Suidelike Halfrond nóg getref het.
Laatmiddag het hulle nog 22 vroue en kinders uit ’n nedersetting buite Beira uit die vloedwater gered, maar toe styg die watervlak te hoog, en hulle moet uitwyk. Daar was nog baie mense wat aan die bome geklou het.

Toe hulle die volgende oggend terugkeer, was daar niemand, net ’n watermassa.

Só het Travis Trower (37) van Rescue South Africa Vrydag die rampsituasie in Mosambiek beskryf.

Teen Saterdagoggend was die dodetal weens die sikloon Idai wat Mosambiek, Malawi en Zimbabwe getref het, reeds meer as 600. Honderde mense word nog vermis.

Idai word bestempel as een van die ergste tropiese siklone wat Afrika en die Suidelike Halfrond nóg getref het.

Trower, lid van die eerste reddingspan wat ná die sikloon in Mosambiek aangekom het, sê hulle moes ’n pad van drie kilometer van die lughawe af met kettingsae oopsny.

“Dit is totale verwoesting. Oral is water en geboue wat in duie gestort het. Mense het niks. Hulle klou (in die watermassa) aan emmers vas.”

Sy reddingspan het snags vyf ure geslaap.

Teen Vrydag het die water begin sak, en daar was nie meer so baie mense wat aan bome vasgeklou het nie, sê hy.

Graham Taylor (62), ’n Zimbabwiër, het in ’n stemboodskap wat wyd versprei is, gesê hy het 300 tot 400 lyke langs die pad buite Beira sien lê.

CNN berig Taylor het Maandagoggend in die stikdonker mense gehoor snik en huil. “Teen dagbreek het hierdie snikke begin sin maak . . . Lyke het in die water gedryf en die stroom van die vloed het lyke tot teen die pad gespoel.”

BBC News berig sowat 1,7 miljoen mense in Suider-Afrika is geraak en het nie toegang tot elektrisiteit of lopende water in gebiede waar huise weggespoel is en paaie vernietig is nie.

Dr. Qasim Bhorat, wat in Soweto praktiseer en as vrywilliger saam met Gift of the Givers in Gwara-Gwara help, sê die massas en massas water was vir hom treffend toe hy daar aankom. “Vir 50 km tot 60 km ver sien jy net die punte van huise. ’n Mens kan jou dit nie indink totdat jy dit self sien nie.”

Bhorat en een paramedikus het Donderdag 100 pasiënte behandel vir beenwonde, bakteriese vel- en oorinfeksies en wanvoeding.

Kobus Botha, wat ’n mango- en beesplaas in die Dombe-distrik besit, sê hy en sy werkers het vlotte gebou van panele wat gebruik word om koelkamers te bou en daarmee mense uit bome gaan red. Sondagaand was daar 500 mense in sy plaasbestuurder se huis. Teen Maandag was daar 900 mense in tente op sy plaas.

Stevia Guambe (32) is sewe maande swanger. Dinsdagoggend vieruur het sy en nog sewe inwoners van Buzi, een van die dorpies stroomop in die Pungwe-rivier wat heeltemal onder vloedwater verdwyn het, in ’n klein houtbootjie gevlug vir hul lewens, berig Erika Gibson.

Die bootjie was oorlaai, maar ná vier dae, met die watervlak reeds op kenhoogte, was dit hul enigste hoop. Twee dae en ’n nag later het ’n vissersboot hulle in die oop see opgepik. Hulle het nie kos gehad nie en wou nie die vuil seewater drink nie.

“Ons het water uitgeskep, want dit het die heeltyd oor die kante gespoel. Dit was donker en beknop in die bootjie. Ek het net gedink ek wil aanhou lewe en veilig wees,” het sy Vrydagaand uit Beira gesê. Daar was reeds baie mense op die vissersboot wat hulle opgelaai het, maar die skipper het vir Guambe-hulle ook plek gemaak.

Die kaptein van ’n Indiese vlootskip wat toevallig in die Mosambiekkanaal was gedurende die sikloon, het na Beira uitgewyk om te gaan help. Hy het die vissersbote help koördineer om mense te red en sy bemanning het ’n noodhulpstasie in die hawe ingerig. Al die ekstra kos aan boord is vir noodleniging geskenk.

“Die man wie se klein bootjie ons van Buzi af gebring het, is na die strand toe gehelp. As hy brandstof kry, is daar mense wat weer na Buzi toe wil gaan om na hul familielede te gaan soek wat weg is. Hoeveel van hulle nog leef, weet niemand nie,” het Guambe gesê. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!