Rampvliegtuig u2018was nie lugwaardigu2019
Rampvliegtuig u2018was nie lugwaardigu2019

Rampvliegtuig ‘was nie lugwaardig’

Ondersoekers van Indonesië het Woensdag gesê ’n Boeing van die lugdiens Lion Air waarin 189 mense dood is nadat dit in Oktober in die see neergestort het, was ’n dag vantevore op ’n ander vlug nie lugwaardig nie.

Die vliegtuig het op ’n vlug op 28 Oktober van Bali na Djakarta dieselfde tegniese probleme ervaar as die noodlottige vlug op 29 Oktober van Djakarta na Pangkal Pinang, het Nurcahyo Utomo, hoof van Indonesië se nasionale veiligheidskomitee oor vervoer, gesê.

Die vlieënier van die vlug na Djakarta het besluit om met die vlug voort te gaan nadat hy die vliegtuig se teen-staakpuntstelsel afgeskakel het, het Utomo gesê.

“Dit is die kern van ons aanbevelings aan Lion Air. In ons ondersoek is bevind die vliegtuig was nie lugwaardig nie,” het hy op ’n nuuskonferensie in Djakarta gesê.

Die vliegtuig wat neergestort het, is in Augustus in gebruik geneem en die vlieënier en medevlieënier het saam sowat 11 000 vliegure op hul kerfstok gehad.

Data van die webwerf FlightRadar24 dui daarop dat die Boeing kort nadat dit opgestyg het, probleme ervaar het.

Twee minute ná opstyging, toe dit ’n hoogte van 610 m bereik het, het dit weer tot net sowat 150 m gedaal.

Die vliegtuig het effens na links gedraai en weer tot sowat 1 500 m gestyg. Dit het op daardie hoogte gebly en tot sowat 600 km/h versnel voordat dit op ’n hoogte van 1 113 m van die radarskerms af verdwyn het.

Wrakstukke en menslike oorskot is later sowat 15 km van die kus af gevind. Die water waar die vliegtuig neergestort het, is sowat 30 m tot 35 m diep.

Daar was onder andere 23 staatsamptenare en sewe werknemers van die staatsbeheerde mynmaatskappy PT Timah aan boord. Volgens Lion Air is die buitelanders wat aan boord was, ’n Italianer en ’n Indiër.

Indonesië se grootste lugramp was in 1997 toe ’n Airbus A300 in die stad Medan neergestort en 214 mense dood is. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!