Rand gaan wipplank ry, waarsku kenners
Rand gaan wipplank ry, waarsku kenners

Rand gaan wipplank ry, waarsku kenners

Francois Williams – Wisselvalligheid is die rand se voorland.

Hoewel die mark gereed is vir ’n sterker rand, druk plaaslike faktore en die beleggersentiment jeens Suid-Afrika die geldeenheid tans af, meen André Botha, senior handelaar by TreasuryOne.

“Daar kan op kort tot mediumtermyn geleenthede vir sowel invoerders as uitvoerders ontstaan, want die sentiment kan net op grond van ’n nuusopskrif verander,” waarsku Botha.

Die rand het Dinsdagoggend versterk tot R14,29 teen die dollar teenoor die vorige aand se sluitingsvlak van R14,36.

Vroegoggend was die geldeenheid swakker op R14,37. Botha skryf dit toe aan kommer oor die impak van die reddingsboei wat die regering aan Eskom wil gee.

Die gebruiklike sterk vraag van invoerders teen die einde van die maand wat rande inruil vir dollar om hul aankope te doen, is ook ’n faktor. Dit lei tot ’n ooraanbod van rand in die valutamark, wat die geldeenheid se waarde laat verswak.

Andersins verswak die dollar steeds in afwagting van rentekoersverlagings deur die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) in Julie.

Die G20-beraad van wêreldleiers dié week is ook ’n faktor wat die markte raak.

Intussen vlug beleggers na veilige hawens soos goud en die Switserse frank weens die verhoogde geopolitieke spanning in die Midde-Ooste en pres. Donald Trump se nuwe sanksies teen Iran.

Die goudprys het in markte in die Verre Ooste sy beste vlak in ses jaar behaal op $1 438,63 per fynons, en verhandel tans teen $1 436 per ons.

Op die wêreld se aandelebeurse het aandeelpryse teruggesak te midde van die oplopende spanning in die Midde-Ooste en in aanloop tot die G20-beraad vandeesweek.

Botha wys op die Amerikaanse beurse wat oornag wisselvallig gesluit het, met geen groot veranderinge nie.

Aandeelpryse in Europa en Asië was Dinsdagoggend laer.

Handelaars sal Dinsdag uitkyk vir die kommentaar van die Fed-voorsitter, Jerome Powell, wat in New York ’n toespraak gaan lewer oor monetêre beleid.

Op die kommoditeitsmark was oliepryse effens laer nadat dit oor drie dae met bykans 8% gestyg het. Brent-ruolie het met 0,31% tot $64,66 per vat gedaal, en West Texas Intermediate, die Amerikaanse olieprysmaatstaf, was 0,1% laer op $57,84 per vat.

Bitcoin het vir die tweed dat tot bo $11 000 gestyg.

Teen die pond het die rand Dinsdag tot R18,24 versterk, en teen die euro tot R16,26. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!