Rand haal laagste vlak in 4 maande teen greenback
Die rand en die Namibiese dollar is nie die enigste geldeenheid wat weens Amerikaanse dollarkrag ly nie.
Hanlie Stadler - Dit lyk al hoe moontliker dat die rand dié week R13,80 of selfs swakker teen die Amerikaanse dollar sal haal nadat dit gisteroggend vir die eerste keer sedert Mei tot R13,71 verswak het.
Die rand het weliswaar nie lank op R13,71 gebly voordat dit tot R13,58 teruggeval het nie, maar ontleders is almal pessimisties oor die vooruitsigte vir die geldeenheid.
Die swakker rand het ’n onmiddellike negatiewe uitwerking op gewone Suid-Afrikaners, aangesien dit die brandstofpryse vir Oktober, wat vandag vasgepen word, beïnvloed. Die Automobiel-Assosiasie verwag dat petrol met nagenoeg 30c per liter duurder gaan word en diesel met 41c.
Die randswakte – ná weke waarin die geldeenheid betreklik stabiel verhandel het – kom ná opmerkings deur dr. Janet Yellen, voorsitter van die Federale Reserweraad (Fed), en ander Fed-amptenare wat rentekoersverhoging in Desember waarskynlik laat lyk.
Yellen en Eric Rosengren het albei daarop gesinspeel dat dit nie meer deurslaggewend is dat Amerika nie die Fed se inflasieteiken van 2% haal nie.
Skuldmarkte beskou dit nou as 80% seker dat die Fed sy rentekoers in Desember sal verhoog, sê John Cairns, valutahandelaar van RMB.
Daarby het pres. Donald Trump dié week eindelik sy belastingplan uitgereik. Dit stel laer maatskappy- en persoonlike belasting voor, sowel as ’n eenmalige belasting op buitelandse inkomste.
Trump-planne
Hoewel Cairns sê dit gaan lank duur om dié planne deur te voer, het dit weer “die aandag gefokus op die moontlikheid van fiskale stimulus in die VSA”. Die stimulus word eers in die eerste helfte van 2018 verwag.
Reuters berig dit gaan moeilik wees om die plan deur die Kongres te kry – selfs die Republikeinse Party is verdeeld daarvoor en die Demokrate is gekant daarteen.
Cairns sê die buitensporige beweging van die rand sou onder normale omstandighede tot ’n effense herstel gelei het, maar dit gaan dalk nie gebeur nie omdat markte “senuagtig” is oor Amerikaanse inflasiesyfers, wat vandag uitgereik word. As die kerninflasiekoers hoër is as verwag, sal die markte wild reageer.
Die rand is nie die enigste geldeenheid wat weens dollarkrag ly nie. ’n Bloomberg-indeks wat die waarde van die Amerikaanse dollar teenoor verskeie geldeenhede meet, is op die hoogste vlak in ses weke.
Daar is wel skeptici wat verwag dat die dollar effens gaan terugtrek omdat niks fundamenteels in die Amerikaanse ekonomie verander het nie, berig Reuters. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie