Rand struikel wu00e9u00e9r oor Covid-19
Rand struikel wu00e9u00e9r oor Covid-19

Rand struikel wéér oor Covid-19

Elvira Wood – Die rand het vroeg Maandagoggend met bykans 30c teenoor die Amerikaanse dollar teruggesak.

Dit kom ure nadat pres. Cyril Ramaphosa omvattende stappe aangekondig het om die verspreiding van die virus in Suid-Afrika te beperk.

Boonop het die Federale Reserweraad aangekondig dat rentekoerse in Amerika met ’n volle persentasiepunt tot tussen 0% en 0,25% verlaag is.

Die rand het die week op R16,06 teenoor die dollar afgeskop, maar verhandel kort ná 07:00 teen R16,33 teenoor die Amerikaanse geldeenheid. Teen 09:00 het dit selfs nóg verder tot R16,46 teruggesak.

Wichard Cilliers, van TreasuryONE, sê Maandagoggend in 'n nota dat gegee die onsekerheid wat in markte heers, gaan wisselkoerse vir 'n ruk lang nog baie wisselvallig wees.

Die rand het ook tot R20,33 teenoor die Britse pond en R18,38 teenoor die euro teruggesak.

Wat betref hulpbronne, verhandel ru-olie teen $31,82 per vat terwyl goud teen R1 547,14 per fynons verhandel.

Bloomberg berig in die lig van die reeds geweldige onsekerheid in die markte sal die goudprys waarskynlik aanhou styg.

Edward Moya, ’n senior markontleder by Oanda in New York, sê dit lyk vir hom ook of die goudprys weer begin styg.

“Pryse sal uiteindelik baat by al hierdie wêreldwye monetêre en fiskale aansporing. Die goudprys behoort weer tot meer as meer as $1 600 per fynons te styg,” voorspel hy. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer