Rand swakker in aanloop tot begroting
Die rand het Maandag in aanloop tot die begrotingsrede vandag met 11c tot R15,11 teenoor die dollar verswak.
“Die rand bly swak omdat beleggers vrees dat die begrotingsrede nie die uitgawes voldoende gaan besnoei om ’n afgradering deur die kredietgraderingsagentskap Moody’s af te weer nie,” sê Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, in ’n nuusbrief.
Die rand het Maandag in ’n stadium tot R15,18 verswak nadat dit Vrydag op R15 teenoor die dollar gesluit het.
Teenoor die euro en Britse pond het die rand tot onderskeidelik R16,43 en R19,62 verswak vergeleke met Vrydag se sluiting van onderskeidelik R16,28 en R19,56.
Boonop is daar ook kommer oor die groei van die wêreldekonomie weens die impak van covid-19 op Chinese fabrieke.
Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het die vooruitsig vir die internasionale en die Chinese ekonomiese groei vir 2020 Vrydag verlaag. Die internasionale ekonomiese groeikoers is afwaarts tot 3,2% (van 3,3%) en China s’n tot 5,6% (van 6%) aangepas.
“Die rand verswak voor die begrotingsrede weens vrese dat die belastinglas wesenlik gaan styg, die agteruitgang in die vooruitsigte vir groei en dat daar nie ’n werkbare oplossing gaan wees om Eskom se skuld en die regering se skuldlas te verminder nie.”
Sy meen as belastingverhogings beperk word en beplande uitgawes verminder word, kan dit gunstig vir die rand wees en tot ’n versterking teenoor die dollar lei.
Nedbank sê in ’n nuusbrief die verswakking van die rand hou ook verband met hernude vrese oor die verspreiding van Covid-19 in Suid-Korea, Italië en Iran.
Die geldeenhede van ander opkomende markte het ook verswak.
Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Market Research, sê daar gaan vandeesweek min wees om te vier as die begroting nie “voldoende besparing oor die komende drie jaar toon nie”.
“Om die fiskus op ’n volhoubare pad terug te plaas moet die regering besparings van sowat R150 miljard oor die drie jaar van die medium-termyn-begroting in werking stel.”
Die besparinge is nodig om die stygende verhouding van skuld-tot-BBP te beperk.
Die besparings van R50 miljard per jaar sal met ’n kombinasie van besnoeiing aan uitgawes en belastingverhogings teweeggebring word.
“Die vraag is watter kombinasie van metodes gaan verteerbaar wees vir twyfelende beleggers, en belangriker nog, vir oorbelaste belastingbetalers.”
Sy sê in dié stadium is daar egter niks wat beleggers se aandag kan aflei van Covid-19 se verspreiding, soos na Italië waar 130 nuwe gevalle aangemeld is nie. Dit het volgens haar hernude kommer gewek oor wanneer die virus sy piek gaan bereik.
“Die koers waarteen nuwe gevalle in China aangemeld word, neem af en markte en ontleders het verwag dit sal die impak op die internasionale ekonomie in die eerste kwartaal beperk.
“Met net ’n paar dae van Februarie oor en die toenemende getal lande wat reisbeperkings instel en hul grense sluit, begin die hoop vinnig kwyn dat dit vinnig in bedwang gebring gaan word.”
Sy meen as die begroting Woensdag goed aanvaar word, kan dit verligting vir die rand bring.
Tans lyk dit egter of die rand swakker neig. As dit tot onder R15,15 verswak, is die teiken dat dit tot R15,30 kan verswak. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie