Rand verhandel steeds onder R14
Suid-Afrika het die afgelope twee weke seismiese, politieke en ekonomiese skuddings ervaar wat die rand die ritteltits gegee het.
Elvira Wood
Hoewel sommige ontleders voorspel het die rand weer soos 'n klip kan val soos wat wel die geval was na Nhlanhla Nene die deur as minister van finansies in Desember 2015 gewys is, het dit nie gebeur nie.
Die rand het sedert 3 April na Standard & Poor's Suid-Afrika se kredietgradering vir skuld in buitelandse geldeenhede tot rommelstatus afgegradeer het tussen R13,48 en R13,95 teenoor die dollar verhandel.
Dave Mohr en Izak Odendaal van Old Mutual batebestuurders sê die relatiewe bedeesde reaksie kan verduidelik word aangesien die wisselkoers eerder deur internasionale as plaaslike gebeure beïnvloed word.
“Die rand word histories deur internasionale faktore – sentiment oor ontluikende markte, hulpbronpryse en die Amerikaanse monetêre beleid – aangevuur terwyl plaaslike gebeure wisselvalligheid veroorsaak.
“Dit is dus net so belangrik om verwikkelinge in Washington en Beijing dop te hou as wat dit is om die Uniegebou dop te hou,” sê hulle in 'n nota.
Hulle wys daarop die swakker rand het voor- en nadele vir Suid-Afrika.
Die grootste nadeel is dit verhoog die prys van invoer.
“Dit is opvallend dat ten spyte van die massiewe geldeenheid waardevermindering tussen 2011 en 2015, inflasie gedemp gebly het. In dié stadium lyk dit of inflasie steeds gaan daal met kospryse wat 'n hoogtepunt bereik het en die rand wat die afgelope jaar verstewig het.
“Die petrolprys is verlede week met 24c per liter verlaag ondanks die toename in die petrolheffings. Met 'n swakker rand en hoër olieprys gaan dit in Mei waarskynlik omkeer,” waarsku hulle.
Volgens Mohr en Odendaal is die voordeel van die swakker rand dit uitvoer en inkomste uit buitelandse beleggings steun.
“Die plaaslike pensioenfonds is deesdae meer as 50% internasionaal en kan voordeel trek uit die swakker rand.”
Die rand het gister om 09:30 teen R13,92 teenoor die dollar verhandel. -Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie