Rand vier nie Amerika se groot dag
Rand vier nie Amerika se groot dag

Rand vier nie Amerika se groot dag

Die vuurwerke gister in die VSA het nie enige vonk in die rand sit nie.

Gister skuins voor 17:00 Suid-Afrikaanse tyd het die rand van sy vroegoggend-hoogtepunt van R13,16 per Amerikaanse dollar tot R13,24 verswak.

Daar was hoop dat die sluiting van Amerika se markte op Onafhanklikheidsdag ’n klein bietjie goeie nuus vir die rand sou bring ná drie dae waarin die eenheid verswak het.

John Cairns, valutahandelaar van RMB, sê die ANC-beleidskonferensie – waar “witmonopoliekapitaal” en die stand van die party onder meer gedebatteer word – is een van die faktore wat die rand onder druk hou.

Volgens Cairns is die “ideale omgewing” vir die rand sterk wêreldgroei sonder hoë inflasie. Ekonomiese groei sal hulpbronpryse opdruk en kapitaalvloei na ontluikende markte aanmoedig.

As wêreldwye inflasie laag bly, sal sentrale banke nie rentekoerse verhoog om dit te tem nie. Hoër rentekoerse in ontwikkelde lande sal kapitaal uit Suid-Afrika daarheen vloei, wat die rand sal laat verswak.

Cairns sê die syfers wys op die oomblik dat inflasiekoerse in sowel die VSA as Europa die afgelope paar maande onder verwagting was. Nietemin blyk dit uit praatjies van sentrale bankiers dat hulle wel rentekoerse gaan verhoog, ondanks lae inflasie.

Ander faktore wat die rand onder druk hou, is negatiewe sentiment en hulpbronpryse wat nog nie herstel nie.

Phillip Pearce, valutahandelaar by TreasuryOne, sê die vrees van hoër rentekoerse plaas die rand op die agtervoet. Hoewel alle ontluikende geldeenhede geraak word, het die rand die meeste gegly – dít nadat die rand tot onlangs toe “merkwaardig” stabiel gebly het ondanks die kabinetskommeling, afgraderings, ’n tegniese resessie en die voortslepende onthullings oor staatskorrupsie.

Volgens Cairns beskou die markte die debatte op die ANC se beleidskonferensie op die oomblik as positief omdat dit lyk asof “hervormende” mense in die party die hef in die hand het. Dit blyk onder meer daaruit dat pres. Jacob Zuma glo sy steun toegesê het aan ’n magsdelingsooreenkoms tussen sy moontlike opvolgers. Dit kan beteken ongeag of Nkosazana Dlamini-Zuma of Cyril Ramaphosa die party se volgende leier word, die ander een die adjunkleier sal word.

Pearce sê van die voorstelle wat uit die beleidskonferensie kom – soos dat die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) geskrap word – is “radikaal belaglik” en hy verwag dat die rand sal versterk ondanks die “geraas” van die konferensie se kant af. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!