Rapport se SA Super-span: Dun op slot, dik op senter
Superrugby
Hoe sal 'n Suid-Afrikaanse span lyk wat suiwer op Superrugby-vorm gekies word? Met die reeks wat tans op ys is, hou Hendrik Cronjé van Rapport sy lyf keurder. Hoewel die land se senter-kis oorloop van skatte, is die talent op slot dunner gesaai ná die vertrek van 'n paar groot name.
Heelagter: Aphelele Fassi (Haaie): Hy het gewys wat sy vaartversnelling oor daardie eerste tien tree, oog vir 'n gaping en aftrappe vir 'n span beteken. Met 'n mentor soos Pat Lambie sal sy skopwerk, posisionele spel en lugspel gou genoegsaam verbeter om 'n bedreiging vir die ervare Willie le Roux op heelagter in te hou. Fassi is op koers om in Julie se kragmeting met Georgië sy toetsbuiging vir die Springbokke te maak.
Regtervleuel: Sbu Nkosi (Haaie): Aangesien hy 'n ruk beseer was, kon Madosh Tambwe net sowel die beginspan haal. Hulle en Toulouse se Cheslin Kolbe is die land se drie voorste regtervleuels. Uit die drietal is Kolbe nog loshande die beste, met hope X-faktor, maar sowel Nkosi as Tambwe is bestendige spelers. Daar is nie veel verskil tussen die twee op die aanval en verdediging nie.
Buitesenter: Lukhanyo Am (Haaie): As daar 'n kaptein vir die 23-tal aangewys moes word, sou hy die voorkeurkandidaat wees. In 'n stadium was sy verdediging heelwat beter as sy aanval. Hy is deesdae 'n gebalanseerde speler wat op die aanval en verdediging ewe veel vir sy Super-span beteken. As 'n kombinasie is hy en André Esterhuizen tans die beste uit die Suid-Afrikaanse Super-senterpare.
Binnesenter: André Esterhuizen (Haaie): Hy is nie een van daardie binnesenters wat noodwendig met sy hande of voete ruimte aan die buitekant skep nie. Dis eerder met brute krag en sy 115 kg waarmee hy soms tot drie teenstanders insuig en gate op die punte laat oopgaan. In die reeks sover het hy 52 duikslae uitgevoer, 12 meer as die Stormers se Jamie Roberts en meer as enige ander Suid-Afrikaner.
Linkervleuel: Makazole Mapimpi (Haaie): Die enigste ander linkervleuel in die land wat in dieselfde asem as hy genoem kan word, is die Bulle se Rosko Specman. Mapimpi borrel tans oor van selfvertroue en het die vermoë om iets uit niks te skep. Mapimpi is 'n beter verdediger as Specman, alhoewel die Bul-vleuel op die aanval al skitterspel vir die Bulle gelewer het. Seabelo Senatla van die Stormers is terselfdertyd aan die verbeter.
Losskakel: Curwin Bosch (Haaie): Hy ry die golf van die Haaie se Super-sukses soos 'n ervare branderplankryer. Die Haaie se sukses tel in sy guns, terwyl die Leeus se gesukkel Elton Jantjies se spel negatief beïnvloed. Bosch se selfvertroue het in die proses herstel en hy speel weer met groter gesag. Verdediging is nie sy sterkpunt nie, maar dis net Handré Pollard en Damian Willemse wat beter as hy in dié afdeling vaar. Willemse se skopwerk is onder verdenking.
Skrumskakel: Herschel Jantjies (Stormers): Rassie Erasmus het op 'n keer tydens 'n informele gesprek by die Wêreldbekertoernooi in Japan oor Jantjies se puik voorgevoel en aanvoeling vir die spel gepraat. 'n Goeie en maklike voorbeeld daarvan was vroeër vanjaar in die Stormers se oefenwedstryd teen die Haaie in Soweto toe hy teen die verloop van spel 'n onderskepdrie gedruk het. Daar was daarna verskeie ander goeie voorbeelde van sy aanvoeling in die Super-reeks.
Agtsteman: Sikhumbuzo Notshe (Haaie): Vir 'n speler wat aan die einde van 2018 sy plek in die Bok-groep verloor het en verlede jaar gesukkel het om gereeld plek in die Stormers se 23-tal te kry, het Notshe vanjaar met 'n merkwaardige regrukpoging in Durban vorendag gekom. 'n Mens kan Brent Janse van Rensburg, die voorspelerafrigter van die Haaie, se hand duidelik in sy uitstekende spel sien. Hy lyk fiks en sy werkverrigting beïndruk.
Steelkantflank: Pieter-Steph du Toit (Stormers): Die gaping tussen hom en die ander seweflanke wat vir die Suid-Afrikaanse Super-spanne speel is groot. Al speel hy net tot 80% van sy vermoë is hy steeds beter as die res. Onder die ander seweflanke lyk die Bulle se Josh Strauss eers weer die afgelope twee weke soos 'n toetsspeler. Henco Venter begin wel nie vir die Haaie nie, maar hy maak die afgelope tyd impak van die bank af.
Oopkantflank: James Venter (Haaie): Toe hy van Johannesburg na Durban is, het hy Eduard Coetzee, uitvoerende hoof van die Haaie, om speelkans gesmeek. Hy kry nou genoeg daarvan en het nog nie 'n oomblik teleurgestel nie.
Slot: Hyron Andrews (Haaie): Op slot is Suid-Afrika se Superrugby-spanne dun aan werklike sterspelers nadat feitlik al die land se groot name vort is om vir oorsese klubs te speel. Andrews se spelpeil as vyfslot is tans beter as JD Schickerling s'n. Hy is aan die ontwikkel as lynstaanman en onder Janse van Rensburg is sy werkverrigting in die vastelos duidelik strate beter as voorheen in sy loopbaan.
Slot: Salmaan Moerat (Stormers): Uiteindelik begin hy met meer speelkans aan die verwagtinge voldoen nadat hy groot belofte as 'n Junior Bok getoon het. Hy dwing nog nie naastenby dieselfde gesag as 'n Eben Etzebeth in die viertrui af nie, maar Moerat speel vanjaar met groter positiewe aggressie. Hy het oral 'n invloed wanneer hy losgemale tref. Daar is nog ruimte vir hom om as 'n baldraer te verbeter.
Vaskopstut: Trevor Nyakane (Bulle): Een van die Bulle se handvol sterkpunte dié seisoen is hul skrumwerk. Die Bokke maak nie 'n geheim daarvan dat Nyakane hul sterkste skrumwerker is nie en 'n mens kan duidelik in Superrugby sien hoekom. As baldraer word hy nooit teruggeduik nie, maar dis sy skrumwerk wat hom, as sy fiksheid na wens is, nog die beste in die land maak.
Haker: Scarra Ntubeni (Stormers): Hy is Meneer Bestendigheid. Hy het nie soos 'n Malcolm Marx of Bongi Mbonambi iets wat hom van die res onderskei nie, maar hy doen die basiese dinge goed en is 'n spanman.
Loskopstut: Steven Kitshoff (Stormers): Al lyk dit dikwels of hy net luier, kon die Stormers nog klokslag op hom staatmaak om in die groot oomblikke iets uitsonderlik te doen. Hy is sover ook baie vir sy Super-span as leier werd. Steeds loshande die land se voorste loskopstut.
PLAASVERVANGERS
Kerron van Vuuren: As die Haaie hom reg bestuur, het hy die vermoë om vorentoe een van Kingspark se lieflinge te word.
Ox Nche: Sy deelname aan Superrugby en die verantwoordelikheid om Beast Mtawarira se leemte in Durban te vul, is vinnig besig om hom tot toetsspeler te slyp. Die keurders sal sy vertonings nou ernstig dophou. Lizo Gqoboka is kort op sy hakke.
Thomas du Toit: Sy skrumwerk is steeds aan die verbeter en hy maak deesdae groot impak by die afbreekpunte. Hy het duidelik groter planne as om net 'n plaasvervanger te wees.
JD Schickerling: 'n Mens wonder hoe goed hy sal wees as hy tot 100% van sy vermoë speel?
Juarno Augustus: Teen die Haaie het hy gewys waartoe hy in staat is. Beserings moet nou wegbly sodat sy loopbaan kan vorder.
Sanele Nohamba: Sy besluitneming, vinnige diens en energie is aansteeklik. Bygesê, Embrose Papier was puik in die eerste paar minute teen die Reds, sy beste in 'n lang tyd.
Damian Willemse: Sy insluiting as 'n veelsydige agterspeler word vergemaklik omdat Nohamba die stelskopwerk kan behartig as hulle opgestuur word.
Warrick Gelant: Dalk is Fassi se skitterspel net die regte medisyne om hom uit sy gemaksone te ruk. Daar was teen die Highlanders en Reds 'n duidelike opwaartse kurwe in sy spel. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie