Ras-herrie dra by tot Kallis-skok
Ras-herrie dra by tot Kallis-skok

Ras-herrie dra by tot Kallis-skok

Krieket
Tinus van Staden – ’n Rasbeleid van Krieket Suid-Afrika (KSA) het bygedra tot Jacques Kallis se skok-besluit om ’n afrigtingsgeleentheid by die Engelse krieketspan te aanvaar.
Die Engelse Krieketraad (ECB) het onlangs aangekondig dat hy Kallis, die Proteas se voorste toetslopiemaker, as kolfkonsultant aangestel het vir sy reeks teen Sri Lanka vandeesmaand. Die nuus het skokgolwe deur die Suid-Afrikaanse krieketgemeenskap gestuur.
Kallis was verlede jaar die Proteas se kolfkonsultant in die toetsreeks teen Engeland, maar KSA het sedertdien sy beleid rondom die aanstel van konsultante verander.
Kugandrie Govender, KSA se gewese waarnemende uitvoerende hoof, het verlede jaar in ’n onderhoud met Sport24 gesê hulle gaan voortaan slegs swart konsultante aanstel.
Hoewel KSA later ietwat teruggekrabbel het, verneem Rapport dié beleid het steeds ’n rol gespeel in Kallis se besluit om elders na geleenthede te soek. Hy sou glo verkies om by die SA span betrokke te wees. Die Protea-kamp wou hom glo ook graag weer betrek, maar die rasbeleid het sake bemoeilik.
KSA was die afgelope jaar onder groot politieke druk omdat drie van sy voorste ampsdraers in ’n stadium wit was: Graeme Smith, direkteur van krieket, Mark Boucher, Protea-afrigter, en Jacques Faul, destydse waarnemende uitvoerende hoof.
Rapport verneem minstens een Protea-kolwer wou in die voorseisoen weet of hy Kallis om hulp kan nader, maar die Protea-breintrust het weens die rasbeleid nie geweet wat om vir die speler te sê nie.
Protea-spelers wat verlede somer met die media gepraat het, het melding gemaak van hoe Kallis se kennis hulle gebaat het.
Govender, wat in Desember deur die tussentydse raad geskors is hangende ’n tugverhoor, het op 1 September 2020 aan Sport24 bevestig die beheerliggaam het aan die einde van Augustus ’n onderneming aan die departement van sport gemaak om voortaan slegs swart, bruin en Indiër-konsultante aan te stel.
Dié uitsprake het groot reaksie ontlok. Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) het selfs ’n klag by die Internasionale Krieketraad (IKR) ingedien.
Dit het daartoe gelei dat KSA ’n week later ’n verklaring uitgereik het om die vlamme te probeer blus. KSA het hierin gesê hy het nié ’n beleid wat dit verbied om wit konsultante aan te stel nie. KSA het gesê sy beleid is om swart konsultante aan te stel, behalwe as daar geen swart kandidate is met die nodige ervaring, vaardighede of kennis nie.
Rapport het egter sedertdien ’n uittreksel gesien uit die voorlegging wat KSA in Augustus aan die departement van sport gemaak het, waarin hy dié onderneming maak: “Konsultante vir senior nasionale spanne, wat aangestel word soos benodig, word tot slegs swart (konsultante) beperk.”
Dit is dieselfde voorlegging waarin KSA nuwe, strenger kwota-teikens aangekondig het. Die tussentydse raad het daardie kwota-teikens sedertdien op ys geplaas.
Judith February, die woordvoerder van die tussentydse raad, het vroeër, met verwysing na die nuwe kwota-teikens, aan Rapport gesê “die dokument van die vorige raad” is vir eers op ys geplaas. Dit is onduidelik of dit die rasbeleid rondom die aanstel van konsultante insluit. February het nie gister op ’n navraag gereageer nie.
KSA het in September vir Neil McKenzie as sy hoëprestasie-hoofkolfafrigter aangestel, maar het nie tans ’n Protea-kolfafrigter of -konsultant nie.
Dit is onduidelik of Kallis, wat met 13 289 lopies die derde voorste toetslopiemaker tot nog toe is, langer by Engeland sal bly ná hul reeks teen Sri Lanka.
Kallis wou nie kommentaar lewer nie.
- Netwerk24/Rapport

FOTO
Jacques Kallis einde 2019 in die Protea-kamp. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!