Rasseherrie woed glo op Henties
Rasseherrie woed glo op Henties

Rasseherrie woed glo op Henties

’n Beweerde rassestorm dreig om vakansiegangers se pret langs die kus te versuur.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Engel !Nawatiseb, sê die bloed sal op Hentiesbaai vloei indien die owerhede nie ingryp in ’n beweerde rasseherrie nie.

!Nawatiseb het gistermiddag gesê hy was by die Hentiesbaai-polisiekantoor om formele klagte aanhangig te maak teen mense wat sy en sy gesin se feestyd bederf.

Dít kom nadat hy en sy gesin teenspoed opgetel het tydens hul uitspan op dié vakansiedorp die afgelope week.

In ’n brief aan die stasiebevelvoerder, wat die afgelope naweek soos ’n veldbrand versprei het, sê !Nawatiseb hy en sy gesin word deur wit inwoners geteister.

Volgens hom loop hulle deur onder rassisme en haatspraak en benodig hulle polisiebeskerming.

“Die onderdrukking van swart mense deur wit mense is nog vars in ons geheue, veral diegene van ons wat direk aan wit gewelddadigheid onderwerp is. Derhalwe het enige uittarting van hierdie omvang die vermoë om wonde oop te krap van die historiese onderdrukking, gewelddadigheid, haat, rassisme en allerlei ondeugde wat teenproduktief vir nasiebou is.”

Volgens !Nawatiseb het ’n wit inwoner op Kersdag by sy private woning ingebars en sy gesinslede beledig.

Dit het hom genoop om ’n toegangspad om sy private woning te sluit om mense te verhoed om sy erf te betree, foto’s van hom en sy gesin te neem en hulle te teister “terwyl ons ons by ons private sake bepaal en ’n welverdiende vakansie geniet soos elke ander inwoner”.

Indien sy gesin nie beskerm word nie, sou hy genoodsaak wees om hulle terug te neem Windhoek toe, sê die adjunkminister.

As ’n baie belangrike persoon (VIP) is hy in elk geval geregtig op dié beskerming, lui !Nawatiseb se brief.

“Ek versoek die bovermelde beskerming om enige lewensverlies en ’n opstand teen swart en wit mense op Hentiesbaai te verhoed.”

Hy vra die owerhede om die voorval ernstig op te neem, omdat swart mense op die vakansiedorp keelvol is vir onderdrukking, sê hy.

Vakansiegangers van veral Suid-Afrika word nie aan dieselfde behandeling as hulle onderwerp nie, voer !Nawatiseb aan.

Hy sê hy sal in elk geval ook die betrokke mense vir naamskending dagvaar, omdat sy naam in die sosiale media by die sogenaamde Fishrot-skandaal bygesleep word.

“Die Fishrot-skandaal het wêreldwye aandag ontlok en my onskuldige naam kan deur insinuasie aan dié onwettige optrede gekoppel word,” sê !Nawatiseb.

Hy het strafregtelike klagte aanhangig gemaak om te verseker die vermeende rassiste word aan die kaak gestel, sê hy.

Sou hulle in hegtenis geneem word, sal “vredeliewende Namibiërs gemobiliseer word om te betoog teen die toestaan van borgtog, omdat ons nie rassisme in ’n onafhanklike Namibië sal duld nie – nie nou nie en nie in die afsienbare toekoms nie”.

In ’n aanlyn skrywe sê ene Paul Smit: “Gisteraand is ek gedreig met ’n glasbottel toe daar gevra is om die musiek sagter te sit. Was omtrent ’n gesuipery en dit donder (sic) ’n dranklisensie. Tente is binne opgeslaan en vandag duur die gesuipery voort.”

Nadat ene Vila Savage hierop gesê het: “Is die minister se plek. Hy het die reg en die mag om geraas te maak”, het Smit teruggekap: “#Fishrot-geld.”

’n Ander vakansieganger het op voorwaarde van anonimiteit die beweerde rasseondertoon van die herrie betreur.

Sy sê die storm is deur ’n rioolkwessie ontketen: “Daardie grond is sover ek weet ook nie ’n erf nie. Die kwessie is vir niemand (of altans nie vir my nie) dat hy hier vakansie hou en selfs onwettig daar bly nie, maar eerder dat die riool direk in die pad onder die duin opdam en daar vullis rondom die eiendom gestrooi is.”

In antwoord hierop sê ! Nawatiseb: “Wel, hulle moet dit met die munisipaliteit bevestig as hulle onseker is.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!