'Rassisme beïnvloed indiensneming'
Strydkinders kry glo voorkeurbehandeling terwyl teen gemarginaliseerdes gediskrimineer word.
Henriette Lamprecht
Werkgeleenthede in die openbare sektor word “gehou” en “is bedoel” vir net 'n sekere stam.
In die ministeries van verdediging, binnelandse sake en werke, sowel as die Namibiese polisiemag word meer as 80% van die werksmag uit “sekere groepe” gekies. Dieselfde geld vir skoonmakers, veiligheidswagte en bodes in die verskillende ministeries, beskermingspersoneel vir baie belangrike persone by Staatshuis en elders. Wat betref beurse vir verdere studies of die aanstelling van Namibiërs by diplomatieke sendings, is dit weer eens meer as 80% van een groep wat gekies word.
Dit is van die geskrewe en mondelinge voorleggings vervat in 'n verslag deur die kantoor van die ombudsman wat op onder meer rassediskriminasie, diskriminasie in die algemeen en stamgebondenheid gefokus het.
Volgens die verslag is in van die voorleggings gesê Nama-kinders sal nooit werk kry nie, die strydkinders word in poste gedruk wat nooit geadverteer is nie, slegs 'n gedeelte van Namibiërs word opgelei en hulle is almal van dieselfde stam.
“Dit is beweer die strydkinders kry werk, terwyl die gemarginaliseerdes net vir vrywillige poste sonder vergoeding gebruik word,” lui die verslag.
Voorts word beweer 'n nie-Khwe, graad 10-druipeling kry werk, terwyl 'n Khwe wat graad 12 het, nie in diens geneem word nie “omdat 'n Khwe nie onderrig kan gee nie”.
Werkloosheid onder die San-gemeenskap is ook baie hoog, met die San wat nie voordeel uit die beleid vir regstellende aksie trek nie.
“San-werkers is net plaaswerkers, hulle word uitgebuit en nie eers die minimumloon betaal nie.”
Voorleggings beweer voorts die werf van werkers vir die konstruksie van paaie in die Kunenestreek was “diskriminerend”, met die ooreenkoms dat persone van beide streke in diens geneem word. Slegs Owambo's is egter in diens geneem.
Diskriminasie teen ongeleerde persone word ook beweer, met onderhoude vir die poste van skoonmakers of drywers wat in Engels gevoer word, en 'n persoon “so kan uitval, al het hy die vaardighede”.
Volgens die verslag is die mening gehuldig dit is duidelik in die Namibiese konteks dat rassisme voortgaan om besluite oor indiensneming en in veral die private sektor te beïnvloed.
Met betrekking tot regstellende aksie wys die jongste statistieke van werkgewers se werksmagprofiel vooruitgang tot gelyke indiensneming is stadig, met die boonste vlak in die meeste sakebedrywe wat “onaanvaarbaar skeef ten gunste van wit werknemers trek”.
“Die voortgesette marginalisering van die voorheen rasse-benadeelde en hul aanstelling in laervlakposte waar vergoeding en voordele oor die algemeen swak is, hou die ongelykhede in inkomste ten opsigte van ras lewendig.”
Voorts blyk dit die bestuur van besighede in die private sektor met wit eienaars, is huiwerig om swart mense in poste in die hoër strukture aan te stel vir redes wat nie met beroepsgeskiktheid verband hou nie.
Die verskoning van die “onbeskikbaarheid van vaardige en geskikte gekwalifiseerde persone uit aangewese groepe” wat dikwels deur werkgewers as redes vir voortgesette onderverteenwoordiging gegee word en swart mense uit topposte hou, is volgens die verslag ongegrond.
“Die oënskynlike weerstand om swart mense beter werksgeleenthede te bied waar vergoeding dienooreenkomstig met hul vlakke van verantwoordelikheid is, help nie om die inkomstegaping te sluit wat rasverwant is nie.”
Die verslag ondersteun voorts die komitee vir ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte se bevinding van 'n voortgesette hoë werkloosheidsyfer, veral onder die jeug en vroue, ondanks stabiele ekonomiese groei.
Dit bevraagteken voorts die gebrek aan 'n wetlike minimumloon wat op alle sektore van toepassing is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie