RDP registreer kandidate te midde twis
RDP registreer kandidate te midde twis

RDP registreer kandidate te midde twis

Die party sê onenigheid oor die uitkoms van sy kieskollege kan goeie uitslae by die komende verkiesing in die wiele ry.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die Rally for Democracy and Progress (RDP) het Vrydag sy presidensiële en Nasionale Vergadering-kandidate vir November se verkiesings by die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) geregistreer.

Die party se kieskollege is die vorige naweek op Rundu gehou, waar mnr. Mike Kavekotora tot presidensiële kandidaat verkies is.

Die ander presidensiële kandidate was mnr. Kandi Nehova en me. Mirjam Hamutenya.

Nehova bevraagteken Kavekotora se verkiesing en sê hy het nie ’n duidelike 50% plus een van die stemme op hom verenig, soos die party se grondwet vereis nie.

Mnr. Nghiningiluandubo Kashume, die RDP se inligting- en publisiteitsekretaris, het bevestig 490 uit 625 afgevaardigdes het gestem, waarvan 14 bedorwe stembriewe was.

Volgens Kashume het Kavekotora 243 stemme gekry, of 51,05%, wat die bedorwe stemme uitsluit.

Nehova het volgens hom 133 en Hamutenya 100 stemme gekry.

Kavekotora is reeds in Junie by die party se gewone nasionale konvensie as president aangewys.

Nehova het glo beplan om die derde nasionale konvensie, wat die agelope naweek op Otjiwarongo sou plaasvind, ná sy nederlaag te “herbelê”.

“Dié wat beweer hulle kan die konvensie herbelê, het hoegenaamd geen mandaat om dit te doen nie, omdat die RDP-lede hul mandaat aan die verkose leiers, mnr. Mike Kavekotora, mnr. Kennedy Shekupakela, me. Brunhilde Cornelius en me. Agnes Limbo toevertrou het.

“Diegene wat die konvensie op 1 en 2 Junie bygewoon het, het besluit en het gepraat. Hulle gaan nie ’n konvensie herhaal nie; die konvensie het reeds plaasgevind,” het Kashume gesê.

Die kieskollege is ná die nasionale uitvoerende komitee-vergadering gehou waar die sentrale komitee (CC) en die reëls vir die kieskollege goedgekeur is.

Die nominasies vir presidensiële kandidate is ook hiertydens oorweeg, het Kavekotora gesê.

“Ek is eenstemmig genomineer. Ek dink dit strook met die tradisie dat die partypresident gewoonlik die presidensiële kandidaat vir die nasionale verkiesing is,” het hy gesê.

“Ek is baie opgewonde dat ons hierdie hekkie te bowe gekom het. Natuurlik sal daar hier an daar nog uitdagings wees,” het Kavekotora gesê.

Hy het gesê die RDP se regsverteenwoordigers het ’n brief aan Nehova se regsverteenwoordigers geskryf waarin die tydsberekening en dringendheid van sy uitdaging bevraagteken word.

Hy beweer Nehova en sy ondersteuners wil die RDP weens die bedorwe stembriewe van stryk bring.

Kavekotora ontken dat die RDP ’n koalisie met die Christian Democratic Voice (CDV) gevorm het.

Hy sê die ooreenkoms is dat die CDV sy stemme aan die RDP sal oodra omdat die party nie aan vanjaar se presidensiële of nasionale verkiesings gaan deelneem nie.

“As iemand hierteen gekant is, het hulle sekerlik verskuilde motiewe,” het Kavekotora gesê.

“Hoekom neem hulle ander roetes? Hoekom gaan hulle nie reguit hof toe nie? My gevoel is hierdie mense wil die RDP se prestasie in die verkiesings in die wiele ry.”

Kavekotora sê hy en partylede wat in Junie by die konvensie was, is nie na Nehova se sogenaamde herbelêde konvensie genooi nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!