RDP stel manifes bekend
RDP stel manifes bekend

RDP stel manifes bekend

'n Politieke party se mikpunt is 'n verenigde nasie wat almal by ontwikkeling betrokke is.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



“Jy kan nie vordering maak nie tensy jy oor die fundamentele beginsels beskik om jou mense te verenig deur hulle verskeie, nasionale verantwoordelikhede te gee.

“Demokrasie word nie geskep deur een mens nie, maar deur vele.”

Só het die Rally for Democracy and Progress (RDP) se sekretaris vir ­inligting en publisiteit, mnr. Nghiningiluandubo Kashume, onlangs op Ongwediva tydens die party se bekendstelling van sy verkiesingsmanifes gesê.

Volgens Kashume is die manifes se doel om alle burgers in die Namibiese Huis te verenig, spesifiek met die land se geskiedkundige verdeeldheid in ag geneem. “Die eenheid wat ons wil sien, is dié waarin mense saamwerk ten opsigte van werkverskaffing, voedselproduksie, onderwys en toegang tot gesondheidsorg.”

Kashume het gesê die RDP streef na 'n land waarin die meerderheid nie deur die klein groepie welgestelde elite agtergelaat word nie.

“Ons wil 'n Namibië vestig waarin elke Namibiër voel hy of sy is deel van die ontwikkelingsprojek van ons nasie.”

Die RDP sê dit is 'n voorstander van deursigtige en demokratiese beginsels in alle regeringstrukture en ­-instellings, asook van meer uitgebreide ekonomiese ontwikkeling wat alle burgers tot voordeel strek.

Die RDP stel ook voor die Nasionale Vergadering (NV) word van 104 tot 72 setels verminder en die ministeries tot 16. Buitelandse sendings moet vaartbelyn gemaak word ten einde nét strategiese, nasionale belange te dien. Dit het ook voorgestel regeringsamp­tenare se streeks- en internasionale reise word beperk.

Die party wil hê die presidents­besluit van 2010 waarvolgens net die staatshoof goewerneurs mag aanstel, moet hersien word.

Die RDP streef ook na die skei van uitvoerende, wetgewende en geregtelike magte.



Bestuurstelsel

Volgens die party het die “werk vir kamerade”-filosofie gelei tot 'n oormatige kabinet en staatsdiens, en die werwing van onbevoegde en staatsamptenare. Die RDP staan in die plek daarvan 'n kleiner en bevoegde regeringsbestuurstelsel voor.

Die party sê 'n onafhanklike oudit moet van alle ondernemings in staatsbesit (SOE's) gedoen word om hul lewensvatbaarheid te bepaal. Al dié ondernemings moet ondersoek word en regstellende maatreëls moet geneem word teen diegene wat die staatskas leeg tap.

Volgens die RDP-manifes gebruik die regerende party huidige bemagtingsmiddele as politieke instrumente om geld op korrupte wyse na die sakke van 'n polities-verbonde elite te kanaliseer.

Die RPD sê die “herleiding” van staatsgeld na “twyfelagtige” beleggers en projekte, soos in die geval met die vermiste miljoene dollars van die staatsdiens se pensioenfonds (GIPF), Avid, Tipeeg en massabehuisingskemas, moet stopgesit word.

Myn- en visvangkonsessies moet ook deursigtig toegeken word en tot voordeel van alle Namibiërs.

Die RDP sê dit sal waak teen die verpolitisering van die verdediging- en sekuriteitsmagte. Dit sal verseker die weermag en polisie is hoogs opgelei en voldoende toegerus.



BEHUISING

Volgens die RDP is die land se behuisingsituasie “uiters onmenslik en onaanvaarbaar”. Die party sê plakkerskampe moet afgeskaf en met behoorlike behuising vir almal vervang word. Die party wil dít doen deur grondpryse drasties te verlaag deur die verskaffing van gedienste grond in stedelike gebiede. Voorts wil dit die opveil van staatsgrond vir behuisingontwikkeling in landelike en stedelike kerngebied verbied.

Die RDP sê dit sal 'n bevoegde behuisingsagentskap stig om die nasionale behuisingsprogram te beplan, te implementeer en uit te voer.

Die party sê waardetoevoeging met betrekking tot minerale, visserye, medisyne en landbou sal die hoeksteen van sy beleid wees.

Volgens die RDP sal alle grond, ook kommunale grond, aanvaar word as kollateraal om ontwikkelingspotensiaal oraloor die land te ontsluit.

Dit verwerp “onder alle omstandighede” die verkoop van grond aan buitelanders, en sê die party sal alle behoeftige Namibiërs en dié wat daarop geregtig is, onder dieselfde kam skeer wat hervestiging betref.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!