Readathon wil leeskultuur vestig

Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Die wêreld is tans meer afhanklik van inligting as ooit tevore en om relevant te bly, moet Namibiërs geletterd wees om toegang tot inligting te kan kry.
Dit was verlede week die boodskap toe die jaarlikse Readathon in die Khomasstreek van stapel gestuur is. Die uitdrukking “kennis is mag” is met aktiwiteite soos leeskompetisies en speltoetse tussen laerskole in die streek lewend gemaak.
Die “leesfees” het afgeskop met ’n optog deur Onafhanklikheidslaan in Katutura, waar die polisie se blaasorkes ’n groot groep leerlinge na die Rössing-gemeen­skapsbiblioteek gelei het.
Die presidentsvrou, me. Monica Geingos, het vir leerlinge ’n storie voorgelees en hulle toegespreek oor die belangrikheid van lees.
Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, het gesê lees verander mense se lewens en die gemeenskap. “Lees is nie net pret nie, maar is noodsaaklik vir persoonlike en nasionale ontwikkeling. As ’n land het ons uitdagings rakende lees, veral in die amptelike taal.
“Dit is waarom dit so belangrik is om klem op lees te lê sodat ons kinders van ’n jong ouderdom af ’n liefde vir lees kan kweek,” het sy gesê.
“Om ons kinders te leer om lief te wees vir lees, is een van die grootse geskenke wat ons hulle kan gee,” het die minister gesê.
Onder die tema “Open nuwe wêrelde deur lees”, sal die Readathon op 30 September by alle Namibiese skole gevier word.
Die doel is nie net om mense aan te moedig om meer te lees nie, maar ook om openbare biblioteke te ondersteun sodat dit meer mense in hul gemeen­skappe kan dien.
“Ons moet biblioteke ondersteun sodat mense in alle gemeenskappe toegang het tot bronne van inligting soos boeke, rekenaars en die internet. Dit geld nie net die leerlinge nie, maar die hele gemeen­skap, want lees is die sleutel tot lewens­lange kennis.”
Hanse-Himarwa het gesê ’n bykomende leesperiode sal nou vir elke graad ingestel word. Een keer per week sal leerlinge ’n leesperiode hê. Die doel is om ’n leeskultuur te skep in elke leerling en onderwyser, het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!