'Realiteit' verskil van mens tot mens
'Realiteit' verskil van mens tot mens

'Realiteit' verskil van mens tot mens

Mandy Rittmann
L ‘ELEPHANT SKRYF:

Ek reageer graag op S. Schrader se brief "Hoekom grootvoete nie los kan loop" (15 Julie 2019).

Hier is die probleem: mense se “realisties dink” verskil.

My realisties gaan om die feit dat die dier voor die mens hier was en dat elke dier geskep is om ’n funksie in die natuur te verrig om die natuur te balanseer.

My realisties is dat die mens kom en vat weg van die dier se natuurlike habitat en verwag dat die dier by die mens moet aanpas en volgens die mens se reëls moet leef en oorleef.

My realisties gaan oor die mens se aanwas wat alles oordonder en nou moet die dier plek maak vir die mens en wat die mens wil hê, hoe groot 'n gedeelte die mens wil hê. Die mens verwag van die dier om volgens sy "gedragskode" te leef in plaas van sy natuurlike instink.

My reaslisties is dat die natuur is so geskep dat van die kleinste organisme tot die grootste mekaar balanseer, sodat die een nie te veel aanwas en die natuur se balans omver gooi nie. Elke insek, reptiel, voël, dier het ’n doel; ’n taak.

Toe kom die mens.

Jou realisme is heel anders. Jy sien dit uit die oogpunt van wat die mens oprig, nou deur olifante beskadig word en die verliese wat gely word omdat jy wil wees waar jy leef.

Ek is ook van Afrika en darem nie so onkundig wat ons diere en hulle gewoontes betref nie. Terwyl die diere meestal konstant is in wat ’n mens van ’n wilde dier kan verwag, kan ons nie dieselfde van die mens sê nie. Elke dag leer/lees ons verstommende berigte oor hoe die mens teenoor sy eie soort en diere optree. Die mens is soms meer genadeloos teenoor die dier.

Bobbejane was net oulik in Jamie Uys se ”Beautiful People”. In werklikheid is hulle, ape en sjimpansees gevaarlik, slinks en agterbaks. Ek en baie ander is ook nie onkundig oor die skade wat bobbejane aanrig nie.

TOEKA SE EROS

Waar Eros vandag heel uitgebreid en gevestig staan, was in die 1970’s net ’n paar huise. Windhoek se vullishope was agter die bulte van Eros.

Die bobbejane was gou om uit te werk wat hul volgende plan van aksie sal wees. Hulle het op die huise se erwe en vullisdromme toegesak. Die van ons wat daar gewoon het, het daagliks met hulle te doen gekry en hulle astrantheid.

Ons moes ons klein hondjies veilig hou; ons moes ons kinders veilig hou.

Daardie jare het ons nie agter hoë mure gewoon nie (nie dat dit ’n bobbejaan sou keer nie). Ons het nie diefwering gehad nie.

Een oggend toe ek in my slaapkamer kom, sit die bobbejaan in my kamervenster en daar is ’n mensbaba in die kamer.

Ek het op die bobbejaan afgestorm met ’n geskree en hande klap. Of dit die regte modus operandi was, weet ek nie, maar dit het gewerk daardie keer. Die bobbejaan het buitekant toe afgespring en laat spat.

Toe moes ons leer dat mens jou deure en vensters moet toe hou in hierdie area, want selfs ’n venster op ’n skrefie is nie ’n probleem vir ’n bobbejaan nie.

Keer op keer moes ek papierkardoese opblaas en by die voordeur uitstap met 'n aggressiewe houding in die hoop ek intimideer die bobbejane. Die kardoes se bars moes soos die knal van 'n geweer geklink het en hulle het laat spaander.

Maar bobbejane is hardkoppig. Sodra hulle van hul skrik herstel, is hulle terug.

Toemaar, ek weet hoe lank ’n uitgegroeide boddejaanmannetjie se slagtande is.

Soms is ons gedwing om met karre die straat te patrolleer en met geweerskote die bobbejane te verjaag. Die straat was destyds De Jagerstraat.

Die vullishope is later verskuif en die situasie het verander.

Maar daarmee saam kom die les: die vullishope van die mens het die bobbejane aangelok - met gevolge.

Om die mens-dier-konflik te verminder of te vermy, moes die vullishope verskuif word.

Marlice van Vuuren van N/a’ankusê sien bobbejane in ’n heel ander lig en ek bewonder haar insig, maar ek bly ver weg van bobbejaan se kind. Ek “konfronteer” liewer die likkewaan in my motorhuis wat op die verkeerde plek kom water soek.

VOORTREKKER

Sommige van ons se standpunt is: hoekom is daar nie iets gedoen om Voortrekker na ’n ander, meer olifantvriendelike plek te verskuif as hy dan ’n probleem geword het nie?

Ek is seker daar sou baie gewees het wat sou bydra om hom verskuif te kry, want hy was nie net ’n “sommerso” olifant nie.

In Republikein van 28 Februarie 2017 het Tanja Bause “So maak jy met woestynolifante” geskryf. Daarin is melding van Voortrekker gemaak: “Harris het vertel van haar eie ervaring met Voortrekker, die groot olifant bul wat in die middel van EHRA se kamp vir byna vier ure gestaan en vreet het. 'Ons wou begin werk en het toe ons hande geklap en met hom gepraat. Hy het onmiddellik omgedraai en weggeloop.'"

As mense sal ons nooit dieselfde oor dinge dink nie.

Die voorstel van ’n reservaat word gemaak, maar hoeveel sal die regering doen om so iets te bewerkstellig? Hoe weet ’n mens waarheen bydraes daartoe sal gaan?

Op dieselfde bladsy as u brief, was daar ’n foto van die kanaal waarin diere dikwels verdrink. 'n Eenvoudige verandering aan die kanaal se walle kon dit miskien moontlik gemaak het vir die diere om uit te kom, deur hulle vastrap- of vashouplek te gee. Die leser het 'n pyplyn voorgestel.

Maar nou ja, dan hoor ons seker weer van instandhouding van pype versus kanale en ag wat, die diere wat verdrink, is nie die einde van die wêreld nie. Vir die mens ja, maar nie vir die dier nie. En die water word mos behandel.

Wanneer is realisties werklik realisties? Ons leef ons maar immer in verskillende werklikhede?

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer