ReconAfrica by Kanadese reguleerders verkla
ReconAfrica by Kanadese reguleerders verkla

ReconAfrica by Kanadese reguleerders verkla

Meer as 120 Namibiese burgerlike organisasies vra die regering moet ReconAfrica se bedrywighede opskort en ’n onafhanklike, openbare kommissie van ondersoek aanstel.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Die Sentrum vir Internasionale Omgewingsreg (Ciel) het TSX Venture Exchange en ander Kanadese kapitaalreguleerders Donderdag versoek om ondersoek in te stel na “moontlike wanvoorstellings in die Kanadese olie- en gasmaatskappy, ReconAfrica, se openbaarmaking van sy bedrywighede in Namibië”.

TSX Venture Exchange is ’n openbare waagkapitaalmark vir opkomende ondernemings.

Hierdie versoek volg ná ’n fluitjieblaser op 5 Mei vanjaar ’n verslag van 44 bladsye aan die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC), ‘n waghondliggaam vir die beskerming van beleggers, oor dieselfde kwessie voorgelê het. Daarin is ook beweer ReconAfrica mislei beleggers. Dié voorheen onbekende olie- en gasmaatskappy se aandeleprys het van Januarie verlede jaar tot Junie vanjaar van 50 Amerikaanse sent tot US$12 gestyg.

Net so ondersoek die Duitse Federale Finansiële Toesighoudende Owerheid (BaFin) ReconAfrica vir ongeoorloofde aandeelbevordering nadat dié maatskappy onthul het hy het US$120 000 aan ’n Duitse mediamaatskappy, Bull Markets Media, betaal vir ’n aggressiewe bemarkingsveldtog. ReconAfrica verhandel benewens die TSX Venture Exchange, ook op die Frankfurtse aandelebeurs.

As deel van die veldtog is die Duitse aandeelbevorderaar Gunther Goldherz betaal om verskeie hoogs spekulatiewe artikels oor ReconAfrica te skryf. Een van dié artikels het op 14 Januarie op die webwerf goldherzreport.de verskyn en daarin is aandele met die wennommers van die boerpot in ’n lotery vergelyk, het The Globe and Mail in Junie berig.

National Geographic het vroeër berig ReconAfrica se waarde het van US$191 miljoen (N$2,67 miljard) aan die begin van 2021, tot meer as US$1 miljard (N$14 miljard) teen die middel van Mei gestyg. Die klag by die SEC in Amerika, wat op openbare rekords steun, lys meer as 150 gevalle van misleidende verklarings deur Recon Africa en beweer die maatskappy het miljoene Amerikaanse dollar op bedrieglike wyse ingesamel. In die artikel word ook beweer dat verskeie topbestuurders hul aandele verkoop het terwyl ReconAfrica die aandeelprys bevorder het.

BURGERLIKE ORGANISASIES

Intussen het Namibiese burgerlike organisasiegroepe die moontlike ondersoek deur TSX Venture Exhange en ander reguleerders in Kanada verwelkom.

Meer as 120 Namibiese burgerlike organisasies het Donderdag ‘n beroep op die regering gedoen om die soektog na olie en gas in die Kavangostreke op te skort en ‘n onafhanklike, openbare kommissie van ondersoek aan te stel.

Me. Nadia April van die Women’s Leadership Centre sê in ‘n verklaring die kommissie moet na die ekologiese en klimaatsimplikasies kyk, maar ook na die moontlike impak wat mynboubedrywighede op uitbuiting van vroue sal hê.

Mnr. Rinaani Musutua van die Trust vir Ekonomiese en Maatskaplike Geregtigheid sê dié trust was nog altyd baie skepties oor ReconAfrica se syfers oor die hoeveelheid olie wat moontlik ontgin kan word.

“Dit is tyd dat ons amptenare besef Namibië se ware voorspoed lê nie in fossielbrandstowwe en finansiële spekulasies nie,” sê hy.

Mnr. Max Muyemburuko, voorsitter van die Kavango-Oos- en -Wes Bewarings- en Gemeenskapsbosbouvereniging, sê ReconAfrica het “nooit regtig met die geraakte gemeenskappe vergader nie”.

Verder is die slikdamme nie uitgevoer nie, wat beteken die hoogs giftige afvalwater van die eksplorasieproses mag dié gemeenskappe se grondwater besoedel.

Dr. Chris Brown, uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer vir die Omgewing (NEC), wys daarop die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) het sowat tien dae gelede in Frankryk ten gunste van ‘n mosie gestem wat die beskerming van die Okavango-delta teen olie- en gasuitbuiting steun. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!