ReconAfrica het beleggers glo mislei
ReconAfrica het beleggers glo mislei

ReconAfrica het beleggers glo mislei

Buiten ’n wekroep deur die Internasionale Energieagentskap om geen nuwe olievelde te ontgin nie, kry ReconAfrica ook die wind van voor in ‘n verslag wat beweer beleggers word mislei.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die Kanadese olie- en gasmaatskappy Reconnaissance Energy (ReconAfrica) het nog nie amptelik gereageer op ’n verslag aan ’n Amerikaanse waghondliggaam dat hy na bewering beleggers oor sy eksplorasiewerk in die Kavango mislei het nie.

Die gesaghebbende wetenskap- en omgewingstydskrif, National Geographic, het Vrydag berig ReconAfrica, “wat op soek is na olie en gas stroomop van een van Afrika se weligste en mees wildryke habitats, het beleggers volgens verskeie kenners asook die verslag van ’n fluitjieblaser deur ’n wanvoorstelling van sy werk op dié projek, op ’n bedrieglike wyse mislei”. Die fluitjieblaser het op 5 Mei ’n verslag van 44 bladsye hieroor aan die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC) voorgelê, berig National Geographic.

Die SEC is ’n onafhanklike federale regeringsagentskap wat verantwoordelik is vir die beskerming van beleggers, die billike en ordelike funksionering van die sekuriteitsmarkte en die fasilitering van kapitaalvorming.

“ReconAfrica se aandeleprys het die afgelope maande verdriedubbel,” lui die berig.

Net so swyg ReconAfrica ook nog oor die Internasionale Energieagentskap (IEA) se belangrike klimaatsverslag wat op 18 Mei uitgereik is en wat wêreldwyd opspraak verwek het.

Volgens die IEA “moet daar ná 2021 geen nuwe olie- en gasvelde ontgin word en geen nuwe steenkoolmyne gevestig of mynuitbreidings aangepak word indien die internasionale gemeenskap ’n klimaatskatastrofe wil afweer nie.

Die IEA sê dié drastiese inperking van fossielbrandstofontginning is nodig om aardverwarming van meer as 1,5 grade Celsius te verhoed.

Navrae in dié verband is op 19 Mei deur Republikein aan ReconAfrica se woordvoerder, me. Claire Preece, gerig. Teen gister het die maatskappy nog nie daarop gereageer nie.

Die IEA sê in sy verslag hoewel die wêreld “natuurlik nie môre kan ophou om fossielbrandstof te verbrand nie”, moet hy hom doelgerig daarvoor beywer en “die ontwikkeling van alle nuwe (olie- en gas-)velde staak”.

VERSLAG AAN SEC

ReconAfrica se waarde het vanaf US$191 miljoen (N$2,67 milard) aan die begin van die jaar, tot meer as US$1 miljard (N$14 miljard) teen die middel van Mei gestyg. Die klag by die SEC, wat op openbare rekords steun, lys meer as 150 gevalle van misleidende verklarings deur ReconAfrica en beweer dat die maatskappy miljoene Amerikaanse dollar op bedrieglike wyse ingesamel het en beweer dat verskeie topbestuurders hul aandele verkoop het terwyl ReconAfrica die aandeelprys bevorder het, berig National Geographic.

ReconAfrica kom sedert Oktober verlede jaar toenemend onder skoot van omgewingsinstansies en -waghondliggame omdat hy na bewering nie standaard omgewingsbewaringsmaatreëls toepas nie, sonder goedgekeurde waterpermitte eksplorasiewerk doen, en die plaaslike bevolking se kommer ignoreer oor die potensiële gevolge wat die projek op hul nedersettings, gemeenskapslewe, watervoorrade en die natuurlewe het, berig dié tydskrif.

ReconAfrica het tot nou toe nog nie amptelik in ’n nuusverklaring op dié beweringe in die fluitjieblaser se verslag gereageer nie.
[email protected]


FOTO
Die terrein by Kawe in Kavango-Oos waar die eerste toetsgat deur ReconAfrica geboor is. Foto Allgemeine Zeitung

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!