ReconAfrica in nuwe strom oor boorwerk
ReconAfrica in nuwe strom oor boorwerk

ReconAfrica in nuwe strom oor boorwerk

Omgewingsaktiviste het opnuut vir ’n moratorium gevra nou dat dit blyk die Mbambi-toetsterrein val binne 'n bewaringsgebied.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Nuwe storm het om die Kanadese olie- en gasmaatskappy ReconAfrica se boorbedrywighede losgebars. Dié keer omdat opnames toon boorwerk by sy tweede boorterrein by Mbambi val in die Kapinga Kamwalye-gemeenskapsbewarea.

Die gesaghebbende internasionale omgewingstydskrif National Geographic het Maandag ’n artikel geplaas oor nuwe bewyse wat daarop dui hierdie stratigrafiese gat word geboor binne ’n beskermde bewaringsgebied.

Dit is deur middel van lugfoto’s vasgestel.

ReconAfrica het boonop die gebied van nagenoeg 5 ha in die Kapinga Kamwalye-gemeenskapsbewarea ontbos sonder vooraf goedkeuring van die kommunale grondraad soos wetgewing vereis.

Dit is gister deur mnr. Thomas Muronga, voorsitter van hierdie bewaringsgebied bevestig. “Ek het net gehoor hulle is besig om daar skoon te maak en toe ek daar kom, sien ek hulle het klaar begin om te ontbos,” was sy woorde.

Muronga sê ReconAfrica het eers sowat ses maande nadat daar in Januarie begin is om die gebied skoon te maak en die terrein te ontwikkel, ’n aansoek vir grondgebruiksregte by die kommunale grondraad ingedien.

“Die Kapinga Kamwalye-bewarea is gestig om die olifante, seekoeie, swartwitpense, gryskroonkraanvoëls en ander spesies in dié unieke deel van Kavango te beskerm,” sê omgewingsaktiviste in reaksie op dié nuwe inligting.

“Leonardo DiCaprio, Re:wild en sy plaaslike vennote, insluitend die Trust vir Ekonomiese en Sosiale Geregtigheid, die Inheemse Volke van Afrika-koördineringskomitee (IPACC) en die Vroueleierskapsentrum veroordeel hierdie optrede. Lugfoto's is ingespan om te bevestig die Kavangorivierkom, plaaslike gemeenskap en wildlewe staan gevaar om ernstige skade te lei,” lui die verklaring.

“Die National Geographic-artikel bevestig ons plaaslike vennote se bekommernisse oor ReconAfrica se aktiwiteite, insluitend dat sy optrede geen opregte besorgdheid oor die sensitiewe en belangrike ekosisteem, en die mense en natuurlewe wat dit ondersteun nie, weerspieël nie,” sê Re:wild se hoofwetenskaplike en uitvoerende hoof, mnr. Wes Sechrest.

“ReconAfrica moet verantwoordelik gehou word vir sy optrede en ’n onmiddellike moratorium moet op olie- en gasboorwerk regoor die Kavangorivierkom ingestel word. Anders kan die streek dít verloor wat ’n reddingsboei vir honderdduisende plaaslike mense is. Dit rig ook onomkeerbare skade aan die diversiteit van wild aan, wat ’n kritieke rol speel in die handhawing van die gesondheid van ons planet,” sê Sechrest verder.

Hy wys daarop plaaslike leiers en aktiviste het die afgelope jaar verskeie kere in die openbaar aangevoer hulle is bekommerd daaroor dat ReconAfrica nie voldoende met die plaaslike gemeenskappe oor sy werksaamhede beraadslaap het nie, dat hy moontlik nie voldoende maatreëls tref om die besoedeling van die streek se enigste waterbron te voorkom nie, en dat die oliesoektog die natuurlewe bedreig.

Daar is ook oor en oor benadruk een van die groepe wat kwesbaar is en deur ReconAfrica se bedrywighede geraak word, is die San – een van die oudste kulture in die wêreld, sê hy.

Volgens National Geographic toon ReconAfrica se omgewingsimpakstudie (EIA) hy sou die toetsboorgat enkele kilometer suidwes van die huidige terrein geboor, wat dan buite die bewaringsgebied sou val.

ReconAfrica het intussen gister deur sy Namibiese woordvoerder, me. Ndapewoshali Shapwanale, ontken enige oortreding is begaan.

“Ons is daartoe verbind om voort te gaan onder die direkte toesig en in noue samewerking met die regerings in beide lande (Namibië en Botswana), sowel as hul streeks- en tradisionele owerhede.

“Ons wil verseker ons voldoen aan relevante wette en regulasies deur al die stadiums van ons operasionale bedrywighede, insluitend om gehoor te gee aan omgewings- en sosiale kwessies,” sê sy.

“Van van die bepalings en voorwaardes vir die eksplorasielisensie wat deur die regering van Namibië aan ReconAfrica uitgereik is, was om stratigrafiese putte binne die eksplorasiegebied te boor, en daarvoor is omgewingsimpakstudies gedoen en die kantoor van die Omgewingskommissaris het omgewingsklaringsertifikate vir die stratigrafiese boorgate by Kawe en Mbambi uitgereik,” sê Shapwanale. –[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!