ReconAfrica, Namcor sluit ooreenkoms
ReconAfrica, Namcor sluit ooreenkoms

ReconAfrica, Namcor sluit ooreenkoms

Die Nasionale Petroleumkorporasie gaan met die oliesoektog in die Kavango help en Recon­Africa sal verantwoordelik wees om die onkoste vir die eksplorasiewerk te dek.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Kanadese olie- en gasmaatskappy Reconnaissance Energy (ReconAfrica) het gister met die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) 'n gesamentlike operasionele ooreenkoms aangekondig, om saam die hulpbronpotensiaal in die Kavango-gebied in Namibië te ontwikkel.

ReconAfrica is al 'n geruime tyd besig met eksplorasiewerk in die Kavango-kom en was onlangs suksesvol met sy tweede boorgat vir olie-eksplorasie.

Volgens die vrystelling het die uitvoerende hoof van ReconAfrica, mnr. Scot Evans, en die besturende direkteur van Namcor, mnr. Immanuel Mulunga, Vrydag die ooreenkoms onderteken.

Die ooreenkoms stipuleer dat ReconAfrica en Namcor die eksplorasieprogram in Kavango-Oos en -Wes sal voortsit, met ReconAfrica wat al die kommersiële onkoste sal dra.

ReconAfrica en dié staatsonderneming is reeds sedert 2015 verbind toe die regering 'n gesamentlike petroleum-­eksplorasielisensie nommer 73 aan hulle toegeken het.

“Ons is verheug om onderhandelinge te voltooi en die ­gesamentlike operasionele ooreenkoms met Recon­Africa vir ­petroleum-eksplorasielisensie nommer 73 te kan teken,” het Mulunga by die geleentheid gesê.

“Hierdie ooreenkoms sal die verhouding tussen Namcor en ReconAfrica bevorder, en ons sal saam die soektog na olie in die Kavango-kom, in ooreenstemming met Namibiese wetgewing bevorder. Ons verstaan die koolwaterstof-potensiaal van die Kavango-kom, en dus sal samewerking met 'n internasionale maatskappy met beide tegniese en finansiele ­vermoëns soos ReconAfrica die ontginning van kommersieel lewensvatbare koolwaterstofreserwes en daardeur ­verbeterde ekonomiese ontwikkeling in die land, ontsluit,” voeg hy by.

Op sy beurt het Evans gesê die ooreenkoms versterk sy maatskappy se verhouding met Namcor.

“Ons sien uit om saam met Namcor te werk. Om saam die potensiaal van Namibië se natuurlike ­hulpbronne te ontgin, vir werkskepping, ­ekonomiese groei en lang termyn verantwoordelike hulpbronbestuur, wat ook sal bydra tot die maatskaplike en omgewingsdoelwitte van die land,” sê hy.

ReconAfrica het tot dusver twee boorgate geboor wat beide wys daar is 'n werkende konvensionele petroleum­kom in die lisensiegebied, sê die maatskappy.

Nog twee boorgate sal vanjaar geboor word. Die ooreenkoms sal ­ReconAfrica en Namcor help om 'n 25 jaar-produksielisensie te verkry as die eksplorasieprogram kommersieel lewensvatbare oliebronne opspoor.

Intussen het die ministers verantwoordelik vir die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza) se nasionale ­toepassingsagentskappe en koördinerende ministeries van Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe verlede Donderdag virtueel vergader.

Die vergadering is belê om die vorde­ring te hersien en uitdagings wat ervaar word om Kaza tot 'n wêreldklas-bewaringsgebied en voorste ­toerismebestemming te ontwikkel.

In 'n vrystelling sê die groep hulle aanvaar Namibië se verduideliking van die oliesoektog en stem saam met die belangrike besluit om onkonfensionele olieontgunning, beter bekend as hidrobreking, te verbied.

“Vennootstate bly verbind tot omgewingsvolhoubaarheid, sowel as plaaslike, streek- en internasionale beleide en wetgewing in die bestuur van gedeelde ekostelsels en hulpbronne.

“Ons het ons verbind om op 'n gepaste tyd 'n gemeenskaplike standpunt hieroor te ontwikkel,” lees hul vrystelling. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!